Die Bybel 2020-vertaling – Agtergrond
Waarom word daar weer ‘n nuwe vertaling in Afrikaans gemaak?
Verskeie sake het ‘n rol gespeel by die besluit om ‘n nuwe vertaling van
die Bybel in Afrikaans voor te berei.
Die belangrikste oorwegings was die volgende:
- 1.In Afrikaanssprekende kerke is daar die behoefte vir ‘n Bybelvertaling wat sterker aansluit by die bronteks (dit wil sê die Hebreeuse, Aramese en Griekse tekste) as die bestaande vertalings. Baie gelowiges het behoefte aan ‘n Bybel wat so na moontlik aan die bronteks, maar steeds goed verstaanbaar, is.
- 2.Vertaalkunde het as ‘n wetenskap geweldig ontwikkel sedert die publikasie van die 1983-vertaling in Afrikaans. Tot in die helfte van die vorige eeu het alle vertalings ‘n letterlike of woord-vir-woord benadering gevolg, soos die 1933/53-vertaling. Die 1983-vertaling verteenwoordig die verdere ontwikkeling in vertaalkunde waarin die klem meer val op ‘n gedagte-vir-gedagte of betekenis-georiënteerde vertaling. Alhoewel hierdie vertalings vir baie lesers die Bybel meer toeganklik maak, verg hulle heelwat meer interpretasie van die kant van vertalers as in die geval van woord-vir-woordvertalings. Dit is dus te verstane waarom sommige gevestigde kerke en meer ernstige Bybellesers (byvoorbeeld in Bybelstudiekringe) begin voel het dat hierdie vertalings hulle soms van die bronteks vervreemd.
Onlangse ontwikkelinge in Bybelvertaalkunde het ook bevestig dat daar met reg by kerke en Bybellesers behoefte mag wees aan vertalings wat verskillende funksies vervul. Terwyl die aard en omvang van hierdie funksies oordryf kan word, is daar konsensus dat gevestigde kerke behoefte sal hê aan ‘n vertaling wat nie net so naby as moontlik aan die bronteks is nie, maar ook aan die vreemdheid en andersheid van die Bybel as antieke godsdienstige teks reg sal laat geskied. Hierdie soort vertaling fokus nie daarop om die Bybel vir lesers in terme van hulle eie leefwêreld lekker te laat lees nie. Dit neem eerder lesers na die Bybel in se eie tyd en leefwêreld. Alhoewel dit altyd gangbare idiomatiese Afrikaans moet wees, word die letterkundige aard en struktuur van die bronteks, asook die gebruike nie gemoderniseer nie.
Daar is dus duidelik ‘n behoefte aan so ‘n vertaling van die Bybel in hedendaagse Afrikaans naas die bestaande woord-vir-woord vertaling van 1933/53 en die dinamiese vertaling van 1983 asook ander vertalings wat nie deur die Bybelgenootskap voorberei is nie.
- 3.Ons kennis van die tale waarin die Bybel oorspronklik geskryf is, het in die afgelope aantal jare uitgebrei. Meer onlangse taalkundige modelle, asook die moontlikhede wat rekenaarprogramme bied, het ons kennis van die Bybeltale laat toeneem.
Wie het die opdrag geformuleer?
Die Kerklike Advieskomitee wat namens alle kerke wat die
Afrikaanse Bybel gebruik die Bybelgenootskap van Suid-Afrika adviseer oor sake
wat die Bybel in Afrikaans raak, het die Bybelgenootskap in 2004 versoek om ‘n
nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans voor te berei. Dit het gebeur na jare
van deeglike akademiese en marknavorsing, proefvertalings en omvattende
bespreking.
Die Bybelgenootskap het dus nie die inisiatief geneem vir ‘n nuwe vertaling
nie, maar wel die kerke wat die Afrikaanse Bybel gebruik. Hierdie versoek is
deur die Nasionale Raad van die Bybelgenootskap in Februarie 2005 goedgekeur.
Daar is beklemtoon dat die vertaalproses so inklusief moontlik moet wees ten
opsigte van die kerke wat die versoek gerig het en dat die nuwe vertaling
bedoel is vir gebruik deur kerke en gelowiges. ‘n Groot aantal kerke wat die
Bybel in Afrikaans gebruik, het hulle dan ook amptelik ten gunste van die
beplande vertaling uitgespreek en onderneem om hulle ondersteuning daaraan te
gee.
Daar is in 2006 met die projek begin en dit kan van 9 tot 12 jaar duur om te
voltooi.
Wat is die vertaalopdrag waarvolgens die vertalers te werk gaan?
“Skep ‘n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.”
Hierdie opdrag is verder omskryf as ‘n vertaling wat ‘n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees.
Wat is ‘n direkte vertaling?
‘n “Direkte” vertaling is ‘n tegniese term wat ontleen is aan
die begrip “direkte rede”. Wanneer ‘n spreker se woorde
“direk” aangehaal word, impliseer dit die spreker se presiese woorde.
‘n Direkte vertaling streef daarna om die bronteks van die Bybel op so ‘n
manier te vertaal asof die Hebreeuse, Aramese of Griekse spreker/skrywer se
woorde “direk” aangehaal word, maar dan asof gewone idiomatiese en
hedendaagse Afrikaans gepraat/geskryf word.
So ‘n
“direkte” vertaling staan teenoor ‘n “indirekte” vertaling
wat geen aanspraak daarop maak dat die presiese woorde van ‘n spreker/skrywer
aangehaal word nie.
Dit beteken nie dat vorige vertalings nie ook getrou aan die bronteks wou wees
nie, maar die huidige vertaling streef daarna om alles wat kenmerkend is van
die bronteks (styl, register, struktuur, metafore) in goeie Afrikaans weer te
gee.