Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 143

Bybelteks(te)

PREDIKER 1

Die wêreld bly altyd dieselfde

1Woorde van die Prediker, seun van Dawid en koning in Jerusalem.

2Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.

3Wat kry die mens vir sy geswoeg,

sy geswoeg in hierdie wêreld?

4Geslagte kom en geslagte gaan,

maar die wêreld bly altyd dieselfde.

5Die son kom op, die son gaan onder,

en dan haas hy hom weer na waar hy opkom.

6Die wind waai suid, draai noord,

waai hierheen en daarheen

en dan draai hy maar weer.

7Al die riviere loop in die see in,

maar die see word nooit vol nie.

Die riviere hou aan om te loop

na die plek toe waarheen hulle altyd geloop het.

8Woorde vervaag mettertyd,

en 'n mens kry nie klaar met praat nie.

Die oog kyk, maar kry nie klaar met kyk nie;

die oor hoor, maar kry nie klaar met hoor nie.

9Wat was, sal weer wees;

wat gebeur het, sal weer gebeur.

Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie.

10Kan jy van iets sê dit is nuut?

Nee, dit was lankal daar,

lank voor ons tyd.

11Wat verby is, word vergeet,

en ook wat later kom,

sal vergeet word deur dié wat daarna kom.

Baie wysheid stel hoë eise

12Ek, die Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem. 13Ek het my daarop toegelê om alles wat in hierdie wêreld gebeur, te ondersoek en behoorlik te deurdink. Ek het bevind: God het 'n harde taak aan die mens gegee om hom mee besig te hou.

14Ek het alles wat in hierdie wêreld gebeur, bekyk:

alles kom tot niks, dit is 'n gejaag na wind.

15Wat krom is, kan nie reguit word nie;

wat nie daar is nie, kan nie getel word nie.

16Ek het by myself gedink: ek het meer wysheid as almal wat voor my in Jerusalem geregeer het, ek het baie ervaring en insig. 17Ek het my daarop toegelê om te verstaan wat wysheid en kennis is, en wat dit is om 'n gebrek aan wysheid en kennis te hê. Ek het vasgestel: ook dit is 'n gejaag na wind.

18Baie wysheid stel hoë eise,

wie kennis versamel, versamel smart.

PREDIKER 2

In hierdie wêreld bevredig niks nie

1Ek het by myself gedink:

laat ek my oorgee aan plesier,

laat ek die lewe geniet!

Maar ook dit het niks opgelewer nie.

2Van lag moes ek sê: dis sinloos,

en van plesier: wat bring dit?

3Ek het gewonder wat sal gebeur as ek my aan wyn oorgee maar tog nog op soek bly na wysheid, as ek soos 'n dwaas leef totdat ek vasgestel het wat die beste is waarmee 'n mens hom sy lewe lank in hierdie wêreld besig kan hou. 4Ek het groot ondernemings aangepak: ek het vir my huise gebou en wingerde geplant. 5Ek het vir my tuine en parke aangelê en allerhande soorte vrugtebome daarin geplant. 6Ek het vir my damme gemaak om die lappe jong bome nat te lei. 7Ek het slawe en slavinne aangeskaf, en hulle het kinders gekry wat ook my slawe was. Ek het baie beeste en kleinvee gehad, meer as almal voor my in Jerusalem. 8Ek het vir my silwer en goud opgegaar wat ek gekry het van konings en provinsies. Ek het vir my sangers en sangeresse gewerf, talle mooi meisies met wie ek die lewe kon geniet. 9Ek was magtiger en ryker as almal voor my in Jerusalem. My wysheid het my goed te pas gekom. 10Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie. Alles waarmee ek my besig gehou het, het my plesier verskaf. Dit was my beloning vir al my inspanning. 11Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, 'n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie.

Die wyse sterf net soos die dwaas

12Ek het goed nagedink om vas te stel wat dit is om wysheid te hê of om nie wysheid en kennis te hê nie. Wat anders kan 'n koning se opvolger doen as wat reeds gedoen is? 13Dit het ek wel ingesien dat dit 'n mens meer baat om wysheid te hê as om dit nie te hê nie, net soos lig 'n mens meer baat as duisternis.

14Die wyse weet wat hy doen,

vir die dwaas is daar net donkerte,

maar dit weet ek:

een en dieselfde lot tref albei.

15Ek het by myself gedink: die lot van die dwaas sal my ook tref, wat help dit my dan dat ek soveel wysheid het? En ek het vir myself gesê: Ook dit kom tot niks. 16Die wyse sal net so min as die dwaas altyd onthou word. In tye wat kom, word alles vergeet. Die wyse sterf net soos die dwaas!

'n Gawe uit die hand van God

17Ek het die lewe gehaat, want alles wat in hierdie wêreld gebeur het, het vir my sleg afgeloop.

Alles kom tot niks, dit is 'n gejaag na wind.

18Ek het alles gehaat waarmee ek my in hierdie wêreld met soveel sorg besig gehou het, want ek moet dit nalaat aan dié een wat ná my kom, 19en wie weet of hy 'n wyse of 'n dwase mens sal wees? Tog sal hy beskik oor alles wat ek met sorg en oorleg in hierdie wêreld bymekaargemaak het. Dit kom dus ook tot niks.

20Ek het in vertwyfeling geraak oor alles waarmee ek my met soveel sorg in hierdie wêreld besig gehou het. 21'n Mens wat met wysheid en kennis gewerk en sukses behaal het, laat sy besittings na aan een wat glad nie daarvoor gewerk het nie. Dit is nie reg nie. Ook dit kom dus tot niks. 22Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?

23Elke dag bring vir hom pyn

en elke onderneming ergernis;

selfs snags kom hy nie tot rus nie.

Ook dit kom tot niks.

24Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit 'n gawe uit die hand van God is. 25Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie? 26Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap. Maar die een met wie Hy nie tevrede is nie, kry die taak om op te gaar en bymekaar te maak en dit dan te gee aan een met wie God tevrede is.

Ook hier kom dit dus tot niks.

Dit is 'n gejaag na wind.

PREDIKER 3

Elke ding het sy vaste tyd

1Elke ding het sy vaste tyd,

elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:

2daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe,

'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek,

3'n tyd om 'n lewe te neem, 'n tyd om 'n lewe te red,

'n tyd om af te breek, 'n tyd om te bou,

4'n tyd om te huil, 'n tyd om te lag,

'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te dans,

5'n tyd om klippe weg te gooi, 'n tyd om hulle bymekaar te maak,

'n tyd om te omhels, 'n tyd om weg te bly van omhelsing af,

6'n tyd om aan te skaf, 'n tyd om te laat wegraak,

'n tyd om te spaar, 'n tyd om weg te gooi,

7'n tyd om te skeur, 'n tyd om toe te werk,

'n tyd om stil te bly, 'n tyd om te praat,

8'n tyd om lief te hê, 'n tyd om te haat,

'n tyd vir oorlog, 'n tyd vir vrede.

9Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei?

10Ek het gesien dat God aan die mens 'n taak gegee het om hom mee besig te hou. 11God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie. 12Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. 13Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is 'n gawe van God.

14Ek het tot die insig gekom dat wat God doen, blywend is:

jy kan daar niks byvoeg nie

en jy kan daar niks van wegneem nie.

God doen dit sodat die mens vir Hom ontsag sal hê.

15Wat is, was reeds.

Wat kom, was ook alreeds.

God laat weer gebeur wat vroeër gebeur het.

16Verder het ek in hierdie wêreld gesien:

waar daar reg moet geskied, is daar onreg;

waar daar geregtigheid moet wees, is daar oortreding.

17Ek het by myself gedink: God spreek reg oor regverdige en onregverdige; daar is 'n tyd vir elke saak, ook vir wat in die regspraak gebeur.

Almal is van stof

18Ek het by myself gedink: dit is ter wille van die mense self dat God hulle toets; hulle moet insien dat hulle niks anders as diere is nie. 19Een en dieselfde lot tref mens en dier, hulle gaan almal dood, die een soos die ander. Almal het net een asem. Die mens is nie beter daaraan toe as die dier nie. Alles kom tot niks.

20Almal is op pad na dieselfde plek toe,

almal is van stof en almal word weer stof.

21Wie weet of die asem van die mens opstyg boontoe

en of die asem van die dier afgaan onder toe?

22Ek het gesien dat daar niks beter is nie

as dat die mens vreugde vind in sy werk;

dit is wat hom toekom.

Wie kan hom laat sien wat ná hom sal gebeur?

PREDIKER 4

Vir wie sloof ek my af?

1Verder het ek ook nog al die verdrukking in hierdie wêreld gesien.

Die verdruktes kla, maar niemand help hulle nie;

daar is niemand wat help teen die geweld van die verdrukkers nie.

2Toe het ek gedink dié wat klaar dood is, is gelukkiger as dié wat nog lewe, 3maar die gelukkigste van almal is dié wat nog glad nie gebore is en nog nie al die onreg gesien het wat op hierdie wêreld gedoen word nie.

4Ek het gesien dat al die moeite wat mens doen vir sukses uit onderlinge afguns kom.

Ook hier kom dit dus tot niks.

Dit is 'n gejaag na wind.

5Die dwaas vou sy hande en bewerk so sy eie ondergang.

6Hy vind een hand vol rus beter as 'n dubbele hand vol werk.

Ook dit is 'n gejaag na wind.

7Ek het in hierdie wêreld nog meer gesien wat tot niks kom nie: 8daar was 'n man wat alleen was, sonder seun of broer. Tog was daar nie 'n einde aan al sy inspanning nie en was hy steeds op soek na meer rykdom. Hy moes later sê: “Vir wie sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge?”

Ook hier kom dit tot niks.

Dit bly 'n harde saak.

Twee vaar beter as een

9Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. 10As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. 11As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? 12Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie.

Verstandig en dwaas

13'n Jongman wat arm is maar verstandig,

is beter as 'n koning wat oud is maar dwaas

en hom nie meer wil laat waarsku nie.

14'n Jongman het uit die tronk gekom en koning geword alhoewel hy arm gebore is in die koninkryk van sy voorganger. 15Ek het gesien dat al wat lewe in hierdie wêreld hulle skaar aan die kant van die jongman wat die koning se plek ingeneem het. 16Die mense oor wie hy geregeer het, was te veel om te tel. Tog het die nageslag nie met vreugde aan hom gedink nie.

Ook hier kom dit dus tot niks.

Dit is 'n gejaag na wind.

PREDIKER 1:1-4:16AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS