Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 17

Bybelteks(te)

EKSODUS 5

Moses en Aäron gaan na die farao toe

1Daarna het Moses en Aäron na die farao toe gegaan en gesê: “So sê die Here die God van Israel: Laat my volk gaan om tot my eer 'n fees in die woestyn te vier.”

2Maar die farao het geantwoord: “En wie is die Here nogal dat ek na Hom sal luister om Israel te laat gaan? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel nie laat gaan nie!”

3Hulle sê toe: “Die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise die woestyn in trek om 'n offer vir ons God, die Here, te bring, anders tref Hy ons dalk met die pes of die swaard.”

4Maar die koning van Egipte het vir hulle gesê: “Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk af weg? Gaan terug na julle werk toe! 5Julle mense is alreeds te veel en nou wil julle hulle ook nog laat ophou werk!”

6Dieselfde dag nog het die farao die slawedrywers van die volk en hulle opsigters beveel: 7“Julle mag nie meer soos vroeër vir die volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan strooi bymekaarmaak, 8en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net lui, daarom hou hulle aan met neul: ‘Ons wil vir ons God gaan offer.’ 9Die werk moet vir die manne so swaar wees en hulle so besig hou dat hulle nie hulle ore uitleen vir allerhande leuens nie.”

10Toe het die slawedrywers en die opsigters van die volk vir hulle gaan sê: “So sê die farao: Julle kry nie meer strooi nie. 11Loop haal dit self waar julle dit ook al kan kry, maar aan die hoeveelheid werk word niks verminder nie.”

12Die volk het toe dwarsoor Egipte stoppels bymekaargemaak, 13en die slawedrywers het hulle aangejaag en gesê: “Julle moet nog elke dag net soveel lewer soos toe daar nog strooi verskaf is.”

14Boonop het die farao se slawedrywers die Israelitiese opsigters geslaan en vir hulle gesê: “Waarom het julle nie vandag net soos vroeër dieselfde hoeveelheid stene gemaak nie?”

15Die Israelitiese opsigters kom kla toe by die farao: “Waarom maak u so met u werksmense? 16Daar word nie meer strooi aan ons verskaf nie, en tog bly die drywers vir ons sê: ‘Maak bakstene!’ Ons word mishandel, maar eintlik lê die fout by ú mense.”

17Toe sê die farao: “Julle is lui! Lui! Dit is dié dat julle bly sê: ‘Ons wil vir die Here gaan offer.’ 18Loop! Gaan werk! Hulle sal nie meer vir julle strooi gee nie, maar julle kwota bakstene sal julle lewer.”

19Toe die farao vir die Israelitiese opsigters sê dat die daaglikse kwota bakstene nie verminder gaan word nie, het hulle besef watter ramp hulle getref het. 20Moses en Aäron het hulle buite ingewag, en toe die opsigters van die farao af by hulle kom, 21sê hulle vir Moses en Aäron: “Mag die Here julle straf omdat julle ons naam sleg gemaak het by die farao en sy amptenare en vir hulle 'n swaard in die hand gegee het om ons mee dood te maak.”

Moses word weer deur die Here na die farao toe gestuur

22Daarna het Moses weer na die Here gegaan en gesê: “Here, waarom werk U so sleg met hierdie volk? Waarom het U my nou eintlik gestuur? 23Van die eerste oomblik af dat ek by die farao gekom het om in u Naam te praat, het hy hierdie volk mishandel. Tog het U niks gedoen om u volk te red nie!”

24Toe sê die Here vir Moses: “Nou sal jy sien wat Ek met die farao gaan doen: Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan; ja, Ek gaan hom dwing om hulle uit sy land uit weg te jaag.”

EKSODUS 6

1God het vir Moses gesê: “Ek is die Here! 2Ek het aan Abraham, Isak en Jakob verskyn as God die Almagtige, maar my Naam, die Here, het Ek nie aan hulle bekend gemaak nie. 3Tog het Ek my verbond met hulle gemaak, naamlik om die land Kanaän aan hulle te gee, 'n land waarvan hulle nie burgers was nie. 4Ek het die gekerm van die Israeliete, wat deur Egipte verkneg word, duidelik gehoor en Ek het aan my verbond gedink. 5Daarom moet jy vir die Israeliete sê: Ek is die Here. Ek sal julle van die dwangarbeid van Egipte bevry. Ek sal julle van die verknegting verlos, Ek sal julle vrymaak met mag en met groot reddingsdade. 6Ek neem julle aan as my volk en Ek sal julle God wees. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, julle God is wat julle van die dwangarbeid van Egipte bevry. 7Ek sal julle bring na die land toe wat Ek met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob belowe het. Ek sal dit julle eiendom maak. Ek is die Here.”

8Dit het Moses toe aan die Israeliete vertel, maar in hulle moedeloosheid oor die harde werk het hulle nie na hom geluister nie.

9Toe sê die Here vir Moses: 10“Gaan praat met die farao, die koning van Egipte, dat hy die Israeliete laat trek uit sy land uit.”

11Maar Moses sê vir die Here: “Die Israeliete luister nie eens na my nie, hoe sal die farao nog na my luister? Ek praat juis nie maklik nie.”

12Nogtans het die Here vir Moses en Aäron na die Israeliete en na die farao, die koning van Egipte, toe gestuur met die opdrag om die Israeliete uit Egipte te bevry.

Leiers in die familie van Moses en Aäron

13Die volgende mense was leiers in die familie van Moses en Aäron: Ruben was die oudste seun van Israel. Ruben se seuns was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Hulle was die familiehoofde van die stam Ruben.

14Die seuns van Simeon was Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar, en Saul, 'n seun van 'n Kanaänitiese vrou. Hulle was die familiehoofde van die stam Simeon.

15Nou volg die name van die seuns van Levi volgens hulle geslagsregisters: Gerson, Kehat en Merari. Levi het honderd sewe en dertig jaar oud geword. 16Die seuns van Gerson was Libni en Simi. Hulle het nageslagte gehad. 17Die seuns van Kehat was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Kehat het honderd drie en dertig jaar oud geword. 18Die seuns van Merari was Magli en Musi. Dit was dan volgens die geslagsregisters die familiehoofde van die stam Levi.

19Amram het met Jogebed, 'n tante van hom, getrou, en hulle seuns was Aäron en Moses. Amram het honderd sewe en dertig jaar oud geword.

20Die seuns van Jishar was Korag, Nefeg en Sikri. 21Die seuns van Ussiël was Misael, Elisafan en Sitri.

22Aäron het met Eliseba 'n dogter van Amminadab, suster van Nagson, getrou, en hulle seuns was Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar.

23Die seuns van Korag was Assir, Elkana en Abiasaf. Hulle was die familiehoofde van die Koragiete.

24Aäron se seun Eleasar het met een van die dogters van Putiël getrou, en hulle seun was Pinehas.

Dit was dan die familiehoofde van die stam Levi en hulle nageslagte.

25Dit is dié Aäron en Moses vir wie die Here gesê het: “Julle moet die stamme van Israel uit Egipte bevry.” 26En dit is hulle wat met die farao, die koning van Egipte, onderhandel het oor die bevryding van die Israeliete uit Egipte.

Die opdrag aan Moses

27Toe die Here in Egipte met Moses gepraat het, 28het Hy vir hom gesê: “Ek is die Here. Gaan sê vir die farao, die koning van Egipte, alles wat Ek vir jou gesê het.”

29Toe sê Moses vir die Here: “Ek praat swaar, die farao sal nie na my luister nie.”

EKSODUS 7

1Maar die Here antwoord hom: “Kyk, Ek gee aan jou gesag oor die farao, en jou broer Aäron sal jou woordvoerder wees. 2Alles wat Ek jou beveel, moet jy aan jou broer Aäron oordra, en hy moet dit vir die farao vertel sodat hy die Israeliete kan laat trek uit sy land uit. 3Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, sodat Ek baie tekens en wonders in Egipte kan doen. 4Hy sal wel nie na julle luister nie, maar dan sal Ek Egipte my mag laat ervaar: met groot reddingsdade sal Ek die stamme van my volk Israel uit Egipte bevry. 5As Ek Egipte tref, sal hulle besef dat Ek die Here is, en dan sal Ek Israel tussen hulle uit laat trek.”

6Moses en Aäron het gedoen presies wat die Here hulle beveel het.

7Moses was tagtig en Aäron drie en tagtig toe hulle met die farao gaan praat het.

8Verder het die Here vir Moses en Aäron gesê: 9“As die farao vir julle sê: ‘Doen bietjie 'n wonderteken,’ moet jy vir Aäron sê: Vat jou kierie en gooi dit voor die farao neer dat dit 'n groot slang word.”

10Toe Moses en Aäron by die farao kom, het hulle gedoen wat die Here beveel het: Aäron het sy kierie voor die farao en sy amptenare neergegooi en dit het in 'n groot slang verander. 11Die farao roep toe ook sy manne bymekaar wat dié soort ding ken, sy goëlaars. Dié Egiptiese towenaars doen toe met hulle towerkunste presies dieselfde: 12soos elkeen sy kierie neergooi, verander dit in 'n groot slang. Maar toe sluk Aäron s'n hulle s'n in!

13Tog het die farao koppig gebly en nie aan hulle versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.

Die eerste plaag: water word bloed

14Die Here het vir Moses gesê: “Die farao bly onversetlik, hy hou aan weier om die volk te laat trek. 15Gaan môre vroeg na die farao toe; hy sal juis op pad wees water toe. Gaan wag vir hom langs die Nyl, met die kierie wat in 'n slang verander het, in jou hand. 16Sê dan vir hom: ‘Die Here die God van die Hebreërs het my na jou toe gestuur met die opdrag dat jy my volk moet laat gaan om My in die woestyn te dien, maar tot nou toe het jy nie gehoor gegee nie. 17So sê die Here: Deur wat nou gaan volg, sal jy weet dat Ek die Here is.’ Jy moet ook vir die farao sê: Met hierdie kierie in my hand sal ek op die Nyl se water slaan, en dit sal in bloed verander. 18Dan sal die vis in die Nyl vrek, en dit sal so stink dat die Egiptenaars nie die water sal kan drink nie.”

19Verder sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron: Vat jou kierie en swaai dit oor al die water van Egipte, oor sy kanale, riviere, moerasse en damme, dat dit bloed kan word. Daar sal bloed wees in die hele Egipte, selfs in die hout- en klipbakke.”

20Toe het Moses en Aäron gedoen presies wat die Here hulle beveel het. Aäron het sy kierie opgelig en voor die oë van die farao en sy amptenare op die Nyl se water geslaan, en al die water het in bloed verander. 21Die vis in die Nyl het gevrek en die Nyl se water het so gestink dat die Egiptenaars dit nie kon drink nie. Oral in Egipte was daar bloed.

22Maar die Egiptiese towenaars het met hulle towerkunste dieselfde gedoen, sodat die farao koppig gebly het. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf gesê het. 23Die farao het omgedraai na sy paleis toe sonder om hom daaraan te steur. 24Intussen het die hele Egipte langs die Nyl na drinkwater gegrawe omdat hulle nie die Nyl se water kon drink nie. 25Die toestand het 'n volle sewe dae geduur nadat die Here die Nyl getref het.

EKSODUS 8

Die tweede plaag: paddas

1Daarna sê die Here vir Moses: “Gaan sê vir die farao: So sê die Here: Laat my volk gaan om My te dien. 2As jy weier om hulle te laat gaan, sal Ek jou hele gebied met 'n paddaplaag tref. 3Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal uitspring en in jou paleis kom, in jou slaapkamer, op jou bed, in jou amptenare se huise, tussen jou mense, in jou bakoonde en in jou skottels. 4Die paddas sal op jou en op jou mense en al jou amptenare spring.”

5Verder sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron: Swaai jou kierie oor die kanale, riviere en moerasse. Laat daar paddas kom oor Egipte.”

6Aäron swaai toe sy kierie oor al die water van Egipte en toe kom die paddas: Egipte was oortrek van hulle.

7Tog het die towenaars met hulle towerkunste dieselfde gedoen en ook paddas oor Egipte laat kom. 8Hierna roep die farao vir Moses en Aäron en sê: “Julle moet die Here bid dat Hy die paddas van my en my mense af wegvat. Dan sal ek die volk laat gaan dat hulle vir die Here kan gaan offer.”

9Moses antwoord toe: “Soos dit U Majesteit behaag. Wanneer sal ek vir u, u amptenare en u mense bid dat die paddas heeltemal van u en u huise af weggevat kan word, en daar net in die Nyl nog van hulle sal oorbly?”

10En die farao antwoord: “Doen dit môre.”

Toe sê Moses: “Goed, dan sal u besef dat daar geen god is soos ons God, die Here, nie. 11Die paddas sal van u af weggevat word, van u huise, u amptenare en u mense af; net in die Nyl sal daar nog paddas oorbly.”

12Moses en Aäron het van die farao af weggegaan en Moses het die Here aangeroep oor die paddas wat Hy oor die farao gebring het. 13Die Here het gedoen wat Moses gevra het, en die paddas het gevrek, in die huise, in die binneplase en op die lande. 14Die mense het dit hope-hope bymekaargehark, en die land het daarvan gestink.

15Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf gesê het.

Die derde plaag: muggies

16Daarna het die Here vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: Swaai jou kierie en slaan op die grond dat daar muggies oor die hele Egipte kom.”

17Hulle twee het toe so gemaak. Aäron het die kierie geswaai en op die grond geslaan, en mens en dier was oortrek van die muggies. In die hele Egipte het elke krieseltjie stof 'n muggie geword.

18Die towenaars het dieselfde probeer doen met hulle towerkunste, dié keer om muggies voort te bring, maar hulle kon nie.

Mens en dier was oortrek van die muggies. 19Toe sê die towenaars vir die farao: “Dit is die vinger van God!”

Maar die farao het koppig gebly. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.

EKSODUS 5:1-8:19AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS