Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 19

Bybelteks(te)

EKSODUS 12

Die instelling van die paasfees

1In Egipte het die Here vir Moses en Aäron gesê: 2“Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word. 3Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy op die tiende van hierdie maand 'n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin een. 4As 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, kan 'n man en sy naaste buurman dit onder mekaar verdeel volgens die getal persone. Julle moet die lam deel volgens elkeen se behoefte. 5Dit moet 'n jaaroud rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, 'n skaap of 'n bok. 6Julle moet hom goed oppas tot die veertiende van hierdie maand, en dan moet die hele gemeente van Israel teen laat middag slag. 7Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet. 8Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. 9Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. 10Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. 11Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die paasfees van die Here.

12“Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here! 13Die bloed aan die huise waarin julle is, sal 'n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.

14“Hierdie dag moet vir julle 'n gedenkdag wees. Julle moet dit as 'n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit 'n vaste instelling wees wat hulle moet vier. 15Sewe dae lank moet die brood wat julle eet, ongesuurde brood wees. Reeds op die eerste feesdag moet julle ontslae raak van suurdeeg in julle huise, want elkeen wat in die sewe dae gewone brood eet, moet van Israel afgesny word. 16Op die eerste en die sewende dag moet daar 'n gewyde byeenkoms wees. Op hierdie dae mag geen werk gedoen word nie, behalwe dat vir elkeen iets te ete voorberei kan word.

17“Onderhou die fees van die ongesuurde brood, want die eerste dag van die fees is die presiese dag waarop Ek julle stamme uit Egipte sal bevry het. Julle en julle nageslagte moet dié dag altyd as 'n vaste instelling vier. 18In die eerste maand moet julle van die aand van die veertiende af ongesuurde brood eet tot op die aand van die een en twintigste van die maand. 19Sewe dae mag daar geen suurdeeg in julle huise wees nie, want elkeen wat gewone brood eet, sal van die gemeente van Israel afgesny word. Dit geld vir vreemdelinge sowel as vir gebore Israeliete. 20Julle mag glad nie gewone brood eet nie. In al julle woonplekke moet julle net ongesuurde brood eet.”

21Moses het toe al die leiers van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Gaan vang vir julle gesinne elkeen 'n lam uit en slag die paaslam! 22Neem 'n bossie hisop, doop dit in 'n bak met bloed en smeer die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn. Nie een van julle mag by sy deur uitgaan voor die volgende môre nie. 23As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan. Hy sal nie die dood in julle huise laat kom om julle te tref nie.

24“Julle en julle kinders moet altyd hierdie voorskrif eerbiedig. 25Wanneer julle in die land kom wat die Here vir julle gaan gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie verpligting nakom. 26As julle kinders sou vra: ‘Wat beteken hierdie verpligting?’ 27moet julle sê: Dit is 'n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.”

Toe het die volk in aanbidding gebuig.

28Soos die Here vir Moses en Aäron beveel het, presies so het die Israeliete gedoen.

Tiende plaag: dood van die eersgeborenes

29Om middernag het die Here elke eersgeborene van Egipte laat sterf, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die krygsgevangene in die tronk, selfs die eerstelinge van die diere. 30Toe die farao, al sy amptenare en al die Egiptenaars dié nag wakker word, het hulle almal bitterlik aan die huil gegaan, want daar was nie 'n enkele Egiptiese huis sonder 'n sterfgeval nie.

Die farao laat die Israeliete trek

31Dieselfde nag nog het die farao vir Moses en Aäron laat roep en gesê: “Gee pad onder my mense uit, julle twee en al die ander Israeliete! Gaan dien die Here soos julle gevra het! 32Vat julle kleinvee en julle grootvee soos julle gevra het, en trek! En bid dan dat dit met my ook goed mag gaan.”

33Die Egiptenaars het sterk by die volk daarop aangedring om gou uit die land pad te gee, “want,” het hulle gesê, “anders is ons almal dood!”

34Die volk het toe hulle brooddeeg, sonder suurdeeg, in skottels gesit, dit in hulle klere toegedraai en dit so op hulle skouers gedra. 35Verder het die Israeliete die opdrag van Moses uitgevoer, naamlik om van die Egiptenaars silwer- en goue goed sowel as klere te eis. 36Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, sodat hulle uit Egipte as buit kon wegdra wát hulle ook al geëis het.

37Die Israeliete het van Rameses af na Sukkot toe getrek. Behalwe die afhanklikes was daar sowat ses honderd duisend weerbare manne te voet. 38Daar het ook 'n menigte mense van ander afkoms saamgegaan en ook groot troppe kleinvee en baie beeste.

39Met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het, het hulle ongesuurde roosterkoeke gebak: dit was sonder suurdeeg omdat hulle uit Egipte gejaag is en nie kans gehad het om eers vir hulle padkos klaar te maak nie.

40Die Israeliete was vier honderd en dertig jaar in Egipte.

Voorskrifte in verband met die paasfees

41Na vier honderd en dertig jaar, presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die hele volk van die Here uit Egipte weggetrek. 42Dit was die nag waarin die Here oor hulle gewaak het en hulle uit Egipte bevry het. Daarom behoort dié nag aan die Here en moet alle Israeliete en hulle nageslagte dié nag wakker bly.

43Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die voorskrifte in verband met die paasfees: geen nie-Israeliet mag daarvan eet nie; 44'n slaaf wat deur iemand gekoop is, mag eers daarvan eet nadat hy besny is; 45geen bywoner of huurling mag daarvan eet nie. 46Dit moet geëet word in die huis waarvoor dit bedoel is. Van die vleis mag niks buitentoe geneem word nie. Geen been van die paaslam mag gebreek word nie. 47Die hele gemeente van Israel is verplig om die fees te vier. 48Die vreemdeling wat jou beskerming geniet en die paasfees van die Here wil vier, moet besny word, hy en al die mans en seuns by hom. Dan eers is hy soos 'n gebore Israeliet en kan hy daaraan deelneem. Iemand wat nie besny is nie, mag nie daarvan eet nie. 49Een en dieselfde bepaling moet geld vir die gebore Israeliet en vir die vreemdeling wat julle beskerming geniet.”

50Al die Israeliete het gedoen presies wat die Here vir Moses en Aäron beveel het.

51Presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die Here die stamme van Israel uit Egipte bevry.

EKSODUS 13

Elke eersgeborene moet aan die Here gewy word

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Julle moet elke eersgeborene aan My wy, elke eersteling wat in Israel gebore word, mens en dier. Dit is Myne.”

3Moses het vir die volk gesê: “Onthou die dag waarop julle uit Egipte, uit die plek van slawerny, weggetrek het, want dit is deur sy groot mag dat die Here julle daaruit bevry het. Julle mag op dié dag niks met suurdeeg in eet nie.

4“Julle vertrek vandag, op hierdie besondere dag in die maand Abib. 5Die Here het met 'n eed aan julle voorvaders belowe om vir julle die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete te gee. Wanneer Hy julle bring in die land wat oorloop van melk en heuning, moet julle die volgende verpligting in hierdie maand nakom: 6sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet, en die sewende dag is 'n feesdag tot eer van die Here. 7Dit moet beslis ongesuurde brood wees wat julle die sewe dae lank eet. Dan mag daar geen gis of enige suurdeeg by julle in julle hele gebied wees nie. 8Op die feesdag moet elkeen vir sy kinders vertel: ‘Dit is oor wat die Here vir my gedoen het toe ek uit Egipte getrek het.’ 9Die fees moet vir julle wees soos 'n teken op die hand of 'n merk op die voorkop sodat julle altyd sal getuig dat die Here Hom aan julle geopenbaar het, want dit is met sy groot mag dat Hy julle uit Egipte bevry het. 10Julle moet hierdie voorskrif van jaar tot jaar op die bepaalde tyd nakom.

11“Wanneer die Here julle nou bring in die land van die Kanaäniete en dit aan julle gee, soos Hy met 'n eed aan julle en julle voorvaders belowe het, 12moet julle elke manlike eersteling wat gebore word, aan die Here wy, en ook elke manlike eersteling van julle vee vir die Here afstaan. 13Elke eerste hingsvulletjie van 'n donkie moet julle egter met 'n skaap loskoop. As julle hom nie kan loskoop nie, moet julle sy nek breek. Julle moet ook al julle eersgebore seuns loskoop. 14As julle kinders later sou vra: ‘Wat beteken dit?’ moet julle vir hulle sê: ‘Met groot mag het die Here ons uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry, 15want toe die farao te hardkoppig was om ons te laat trek, het die Here al die eerstelinge van die Egiptenaars laat sterwe, mens en dier. Om hierdie rede offer ons die manlike eersteling van elke dier aan die Here, maar koop ons elke eersgebore seun los.’ 16Soos 'n teken op die hand en 'n merk op die voorkop moet dit julle daaraan herinner dat die Here ons met groot mag uit Egipte bevry het.”

Die Here laat die volk met 'n ompad trek

17Toe die farao die volk laat trek het, het God hulle nie die pad na die land van die Filistyne toe laat vat nie, hoewel dit die kortste was, want Hy het gesê: “As die volk in 'n geveg betrokke raak, kan hulle dalk spyt kry en na Egipte toe teruggaan.”

18Daarom het God die volk met 'n ompad laat gaan, met die woestynpad in die rigting van die Rietsee.

Die Israeliete het goed georganiseerd uit Egipte getrek.

19Moses het die liggaam van Josef saamgevat, want Josef het die seuns van Israel dit destyds uitdruklik met 'n eed laat beloof. Hy het gesê: “God sal beslis later na julle omsien, en dan moet julle my liggaam van hier af saamvat.”

20Hulle het Sukkot verlaat en by Etam aan die rand van die woestyn kamp opgeslaan. 21Die Here het bedags met 'n wolkkolom voor hulle uit gegaan om vir hulle die pad te wys en snags met 'n vuurkolom om vir hulle lig te verskaf, sodat hulle dag en nag kon trek. 22Die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags het altyd voor die volk gebly.

EKSODUS 14

Die farao agtervolg die Israeliete

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Beveel die Israeliete om weg te draai en kamp op te slaan naby Pi-Hagirot tussen Migdol en die see. Regoor Baäl-Sefon by die see moet julle kamp opslaan. 3Dan sal die farao dink die Israeliete het verdwaal en is deur die woestyn vasgekeer. 4Ek sal die farao weer koppig maak, sodat hy julle agtervolg, en Ek sal my mag laat geld teen hom en sy leër. Dan sal Egipte besef dat Ek die Here is.”

Die Israeliete het die bevele uitgevoer.

5Toe die koning van Egipte die berig kry dat die volk vir goed weg is, het sy houding en dié van sy amptenare teenoor die Israeliete verander. Die Egiptenaars het gesê: “Wat het ons aangevang dat ons die Israeliete laat trek het? Nou is ons hulle diens kwyt!”

6Die farao het sy strydwa laat inspan en sy leër saam met hom gevat. 7Hy het sy ses honderd beste strydwaens gevat, asook al die ander Egiptiese strydwaens, elkeen met 'n bemanning van drie. 8Die Here het die farao, die koning van Egipte, koppig gemaak sodat hy die Israeliete agtervolg het, maar die Israeliete het onder die beskerming van God verder getrek. 9Die Egiptenaars het hulle agtervolg, en al die strydwaens van die farao met bemanning en leërmag het hulle ingehaal terwyl hulle besig was om by die see kamp op te slaan, naby Pi-Hagirot regoor Baäl-Sefon.

10Toe die farao nader kom, sien die Israeliete skielik die Egiptenaars sit hulle agterna. Hulle het baie bang geword en benoud na die Here geroep.

11Hulle het vir Moses gesê: “Is daar nie begraafplek in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het? 12Ons het jou mos in Egipte gesê om ons te laat staan dat ons vir die Egiptenaars werk. Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom.”

13Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. 14Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”

Die Here red die Israeliete

15Toe het die Here vir Moses gesê: “Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. 16En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan. 17Ek sal die Egiptenaars so koppig maak dat hulle die Israeliete sal agtervolg. So sal Ek my mag laat geld teenoor die farao en sy hele leër: strydwaens en bemanning. 18Wanneer Ek my mag laat geld teenoor die farao, sy strydwaens en hulle bemanning, sal Egipte besef dat Ek die Here is.”

19Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem. Ook die wolkkolom wat voor hulle was, het agter hulle ingeskuif, 20tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Aan die Egiptiese kant was die wolk donker en aan die Israelitiese kant het dit die nag verlig. Die hele nag deur het die twee groepe nie nader aan mekaar gekom nie.

21Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met 'n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is. 22Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos 'n muur gestaan. 23Die Egiptenaars het hulle agternagesit: die farao se perde, strydwaens en bemanning is almal agter hulle aan die see in. 24In die vroeë môre het die Here uit die vuur- en wolkkolom afgekyk op die Egiptiese leër en verwarring onder hulle gesaai. 25Hy het die wiele van hulle strydwaens laat uitval, sodat hulle skaars kon beweeg.

Toe sê die Egiptenaars: “Ons moet wegkom van die Israeliete af, want die Here veg vir hulle teen Egipte.” 26Maar die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor die see sodat die water oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en bemanning kan stroom.”

27Moses steek toe sy hand oor die see uit. Teen dagbreek het die see teruggestroom oor sy bodem en die Egiptenaars het hulle teen die water vasgevlug: die Here het hulle deur die see laat meesleur. 28Toe die water terugstroom, was die strydwaens en bemanning, die hele leërmag van die farao wat agter die Israeliete aan die see in is, tóé onder die water. Daar het nie een van hulle oorgebly nie.

29Maar die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan en die water het weerskante van hulle soos 'n muur gestaan. 30Die Here het Israel daardie dag gered van Egipte, en die Israeliete het die Egiptenaars dood op die strand sien lê. 31Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.

EKSODUS 12:1-14:31AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS