Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 21

Bybelteks(te)

EKSODUS 18

Jetro besoek vir Moses

1Jetro, priester van Midian en skoonpa van Moses, het gehoor wat die Here God alles vir sy volk Israel en vir Moses gedoen het toe die Here die Israeliete uit Egipte bevry het. 2Toe Moses sy vrou Sippora destyds teruggestuur het, het sy skoonpa Jetro haar 3en haar twee seuns in sy huis geneem. Die naam van die een seun was Gersom, “want,” het Moses gesê, “ek woon as vreemdeling in 'n vreemde land.” 4Die naam van die ander was Eliëser, “want,” het Moses gesê, “die God van my voorvaders het my gehelp: Hy het my gered toe die farao my wou doodmaak.”

5Jetro, Moses se skoonpa, het met Moses se seuns en sy vrou na hom toe gegaan waar hy in die woestyn by die berg van God kamp opgeslaan het. 6Jetro het toe vir Moses laat weet: “Ek is jou skoonpa Jetro. Ek kom na jou toe met jou vrou en jou twee seuns.”

7Moses het toe sy skoonpa gaan ontmoet en voor hom gebuig en hom met 'n soen gegroet. Nadat hulle vir mekaar gevra het hoe dit gaan, het hulle in Moses se tent ingegaan. 8Daar het Moses vir sy skoonpa alles vertel wat die Here aan die farao en aan Egipte gedoen het ter wille van Israel, en ook van al die ontberings wat die Israeliete op pad gehad het en hoe die Here hulle bevry het. 9Jetro was bly om te hoor van al die goeie dinge wat die Here vir Israel gedoen het toe Hy hulle uit Egipte se mag bevry het.

10-11Toe het Jetro gesê: “Aan die Here kom die lof toe! Dit is Hy wat julle bevry het uit die mag van Egipte en die farao. Nou besef ek dat die Here groter is as enige ander god, want toe die Egiptenaars vermetel teen die volk van die Here opgetree het, het Hy hulle uit Egipte se mag bevry.”

12Jetro, Moses se skoonpa, het brandoffers en ander diereoffers vir God gebring, en daarna het Aäron en al die Israelitiese leiers gekom om saam met Moses se skoonpa aan die offermaaltyd deel te neem.

13Toe Moses die volgende dag gaan sit om hofsake te verhoor, het daar van die oggend af tot die aand toe mense vir hom gestaan en wag. 14Maar toe sy skoonpa sien wat Moses alles vir die volk doen, het hy gesê: “Waarom doen jy die volk dit aan? Waarom tree net jý op as regter, en al die mense moet van die môre af tot die aand toe vir jou staan en wag?”

15Moses het sy skoonpa geantwoord: “Die volk kom na my toe om na die wil van God te vra. 16As hulle in sake betrokke raak, kom hulle na my toe. Ek lewer dan uitspraak oor die geskille tussen hulle en maak terselfdertyd God se voorskrifte en wette aan hulle bekend.”

17Maar Moses se skoonpa sê vir hom: “Jy maak nie reg nie. 18Jy en al hierdie mense by jou sal totaal uitgeput raak. Die werk is te veel vir jou. Jy kan dit nie alleen behartig nie. 19Luister nou na my raad en mag God jou bystaan! Jy moet die volk se verteenwoordiger by God wees en alle sake voor Hom bring. 20Druk die volk die voorskrifte en wette op die hart, leer hulle die pad wat hulle moet loop en wat hulle moet doen. 21Verder moet jy onder die volk bekwame manne uitsoek, dienaars van die Here, mense wat die waarheid liefhet en nie hulle eie voordeel soek nie. Dan moet jy hulle oor die volk aanstel as leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. 22Hulle moet deurentyd vir die volk hofsittings hou. Die belangrike sake moet na jóú verwys word, en die geringes moet húlle oplos. Dit sal vir jou makliker wees as hulle die verantwoordelikheid saam met jou dra. 23As God jou beveel om dit so te doen, sal jy met die werk kan aanhou, en al hierdie mense sal dan tevrede huis toe gaan.”

24Moses het na sy skoonpa geluister en gedoen wat hy gesê het. 25Moses het bekwame manne uit Israel gekies en hulle aangestel as hoofde oor die volk: leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. 26Hulle het deurentyd hofsittings gehou. Die belangrike sake is na Moses verwys, en die geringes is deur die leiers verhoor.

27Moses het toe afskeid geneem van sy skoonpa, en sy skoonpa is terug na sy eie land toe.

EKSODUS 19

Die Israeliete kom by Sinaiberg

1Presies drie maande na hulle uittog uit Egipte het die Israeliete in die Sinaiwoestyn aangekom. 2Nadat hulle van Refidim af vertrek het, het hulle kamp opgeslaan in die Sinaiwoestyn, regoor die berg. 3Moses het teen die berg uitgeklim na God toe, en die Here het van die berg af na hom geroep:

“So moet jy vir die nageslag van Jakob sê,

vir die Israeliete vertel:

4“ ‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. 5-6As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, 'n koninkryk wat My as priesters dien, en 'n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel.”

7Moses het toe afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep en vir hulle alles vertel wat die Here hom beveel het.

8Daarna het die volk soos een man geantwoord: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.”

Moses het vir die Here gaan sê wat die volk geantwoord het.

9Toe het die Here vir Moses gesê: “Ek kom na jou toe in 'n donderwolk. Die volk sal My kan hoor wanneer Ek met jou praat en dan sal hulle altyd vertroue in jou hê.”

Toe Moses alles wat die volk geantwoord het, aan die Here gaan meedeel het, 10het die Here ook nog vir hom gesê: “Gaan terug na die volk toe. Laat hulle hulle vandag en môre reinig en laat hulle hulle klere was. 11Hulle moet oormôre gereed wees, want dan sal Ek, die Here, na Sinaiberg toe afkom, voor die oë van die hele volk. 12Jy moet rondom die berg vir die volk 'n grens vasstel en vir hulle sê: Julle moet oppas om nie op die berg te klim of selfs aan sy helling te raak nie. Elkeen wat aan die berg raak, moet beslis doodgemaak word.

13“Julle mag so iemand nie met die hand aanraak nie; hy moet beslis met klippe doodgegooi of met 'n pyl doodgeskiet word. Dit maak nie saak of dit 'n mens of 'n dier is nie; hy mag nie bly lewe nie. Eers wanneer die ramshoring blaas, mag hulle die berg uitklim.”

14Moses is toe die berg af na die volk toe. Hy het hulle beveel om hulle te reinig en hulle klere te was 15en vir hulle gesê: “Wees oormôre gereed en moet intussen nie naby 'n vrou kom nie.”

16Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en 'n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van 'n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. 17Toe het Moses hulle uit die kamp laat uitgaan om voor God te gaan verskyn, en hulle het by die voet van die berg gaan staan. 18Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van 'n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud, 19en die geluid van die ramshoring het al hoe harder en harder geword. Moses het gepraat, en God het hom in die donderslae geantwoord.

20Toe die Here na die top van Sinaiberg toe afgekom het, het Hy vir Moses na die top van die berg toe geroep. Moses het daarheen opgeklim, 21en die Here het vir hom gesê: “Gaan af, waarsku die volk dat hulle nie deurbreek na My, die Here, toe om na My te kyk nie, want dan sal baie van hulle sterf. 22Selfs die priesters wat gewoonlik in my teenwoordigheid kom, moet op 'n afstand bly of anders sal Ek hulle laat sterf.”

23Moses het die Here geantwoord: “Die volk kan nie Sinaiberg bestyg nie, want U self het ons gewaarsku om 'n grens rondom die berg vas te stel en daarvan af weg te bly.”

24Toe het die Here vir hom gesê: “Gaan nou af en kom dan saam met Aäron terug. Die priesters en die volk mag nie deurbreek en opklim na My, die Here, toe nie, want dan sal Ek hulle laat sterf.”

25Moses is toe af na die volk toe om alles vir hulle te gaan sê.

EKSODUS 20

Die tien gebooie

(Vgl. Deut. 5:6-21)

1Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:

2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

13“Jy mag nie moord pleeg nie.

14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

15“Jy mag nie steel nie.

16“Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie.

17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Die volk vra Moses moet liewer met hulle praat

(Vgl. Deut. 5:22-33)

18Toe die volk die donderslae en die klank van die ramshoring hoor, en die weerligte en die rook op die berg sien, het hulle van angs gebewe en op 'n afstand bly staan.

19Hulle sê toe vir Moses: “Praat jý liewer met ons, en ons sal luister. Moet tog nie dat God met ons praat nie, want dan sal ons sterf.”

20Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie, want God het gekom om julle te toets. Hy wil hê julle moet ontsag hê vir Hom en nie sondig nie.”

21Die volk het op 'n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was.

Die altaar

22Toe sê die Here vir Moses: “So moet jy vir die Israeliete sê: Julle het nou self ervaar dat Ek uit die hemel met julle kom praat het. 23Julle mag nie gode uit silwer maak om my plek in te neem nie. Julle mag ook nie vir julle gode uit goud maak nie. 24Julle moet vir My 'n altaar van grond bou en julle brandoffers en maaltydoffers uit julle kleinvee en beeste daarop bring. Op elke plek waar Ek my Naam wil laat aanroep, sal Ek na julle toe kom en julle seën.

25“As julle 'n altaar van klip vir My wil oprig, mag julle dit nie van gekapte klip bou nie. Sodra julle met die beitel daaraan kap, sal julle dit ontwy.

26“Julle mag nie met trappies na my altaar toe opklim nie, sodat julle julle nie by my altaar ontbloot nie.”

EKSODUS 21

Bepalings vir die goeie orde in die samelewing

1“Dit is die bepalings wat jy die Israeliete moet meedeel:

Oor slawe

2“Wanneer jy 'n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar vir jou werk, maar in die sewende jaar moet jy hom vrylaat sonder dat hy jou iets daarvoor betaal. 3As hy alleen was toe hy jou slaaf geword het, moet hy alleen vrygelaat word. As hy toe getroud was, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word. 4As sy eienaar vir hom 'n vrou gegee het, en sy vir hom seuns of dogters in die wêreld gebring het, behoort die vrou en haar kinders aan die eienaar, en dan hoef net die slaaf vrygelaat te word. 5As die slaaf egter uitdruklik sou sê: ‘Ek is lief vir my eienaar en vir my vrou en my kinders. 6Ek wil nie vrygelaat word nie,’ moet sy eienaar hom in die teenwoordigheid van God bring, by die heiligdom se deur of kosyn, en daar moet die eienaar 'n gaatjie in sy slaaf se oor steek met 'n els. Dan is hy vir altyd sy eienaar se slaaf.

7“Wanneer 'n man sy dogter as slavin verkoop, mag sy nie gewoonweg soos ander slawe vrygelaat word nie. 8As haar eienaar wat haar as sy vrou wou hê, later nie meer van haar hou nie, moet hy toelaat dat sy deur haar eie mense losgekoop word. Hy het nie die reg om haar aan vreemde mense te verkoop nie, want dan pleeg hy troubreuk teenoor haar. 9As die eienaar egter sou besluit om haar vir sy seun as vrou te gee, moet sy soos 'n dogter behandel word. 10As die eienaar 'n ander vrou vat, mag hy die byvrou haar kos, klere en huweliksreg nie ontsê nie. 11As hy hierdie drie dinge nie vir haar gee nie, moet sy vrygelaat word sonder dat daar iets aan haar eienaar betaal word.”

Oor beserings en beskadigings

12“Wie iemand doodslaan, moet doodgemaak word. 13Hy wat dit onopsetlik gedoen het deurdat God dit met hom laat gebeur het, kan vlug na 'n plek toe wat Ek vir jou sal aanwys. 14Wanneer iemand egter 'n ander opsetlik doodmaak, moet jy hom selfs by die altaar wegvat en doodmaak.

15“Wie aan sy pa of ma slaan, moet doodgemaak word.

16“Wie 'n ander ontvoer om hom te verkoop of om hom in sy besit te hou, moet doodgemaak word.

17“Wie sy pa of ma vloek, moet doodgemaak word.

18-19“Wanneer mans aan die stry raak en die een slaan die ander met 'n klip of met die vuis sonder om hom dood te slaan, moet die slaner nie gestraf word nie. As die man wat geslaan is, egter in die bed moet bly en eers later kan opstaan en met 'n kierie buite kan rondloop, moet die slaner hom vergoed vir die tyd wat hy nie kan werk nie en vir hom sorg tot hy behoorlik gesond is.

20“Wanneer 'n man sy slaaf of slavin met 'n stok slaan dat hy of sy onmiddellik doodgaan, moet dit gewreek word. 21As so 'n slaaf dit vir 'n dag of twee oorleef, is daar nie 'n saak nie, want die slaaf is die man se eiendom.

22“Wanneer mans met mekaar baklei en hulle 'n swanger vrou omstamp, sodat sy 'n miskraam het maar nie blywend beseer is nie, moet hy wat haar gestamp het, onderhewig aan die goedkeuring van die regbank, die boete betaal wat die eggenoot van die vrou hom oplê. 23As sy blywend beseer is, is die straf: 'n lewe vir 'n lewe, 24'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand, 'n voet vir 'n voet, 25'n brandwond vir 'n brandwond, 'n wond vir 'n wond en 'n kneusplek vir 'n kneusplek.

26“Wanneer 'n man sy slaaf of slavin op die oog slaan en dit blywend beskadig, moet hy die slaaf of slavin vrylaat as vergoeding vir die oog. 27As hy sy slaaf of slavin se tand uitslaan, moet hy die slaaf of slavin vrylaat as vergoeding vir die tand.

28“Wanneer 'n bees 'n man of 'n vrou doodstoot, moet die bees met klippe doodgegooi word, en sy vleis mag nie geëet word nie. Daar is nie 'n saak teen die eienaar van die bees nie. 29As die bees tevore al stoterig was, en die eienaar se aandag daarop gevestig is, maar hy dit nogtans nie behoorlik oppas nie, sodat dit die dood van 'n man of 'n vrou veroorsaak, moet die bees met klippe doodgegooi word. Die eienaar van die bees moet ook doodgemaak word. 30As hy egter loskoopgeld moet betaal, moet hy alles wat hom opgelê is, betaal as afkoopgeld vir sy lewe. 31As 'n bees 'n seun of 'n dogter stoot, moet volgens dieselfde regsbeginsel gehandel word. 32As 'n bees 'n slaaf of 'n slavin doodstoot, moet drie honderd en veertig gram silwer aan die eienaar betaal word, en die bees moet met klippe doodgegooi word.

33“Wanneer 'n man 'n put oop laat of wanneer hy 'n put grawe en dit nie behoorlik toemaak nie, en 'n bees of 'n donkie val daarin, 34moet die eienaar van die put vir die verlies vergoed; hy moet die eienaar van die dier uitbetaal en die dooie dier kan hy vat.

35“Wanneer 'n man se bees iemand anders se bees doodstoot, moet hulle die lewende bees verkoop en die geld gelykop onder mekaar verdeel; ook die dooie dier moet gelykop verdeel word. 36Of as dit bekend is dat die bees tevore al bakleierig was, maar sy eienaar dit nie behoorlik opgepas het nie, moet hy 'n ander bees in die plek van die dooie bees gee. Die dooie dier sal syne wees.”

EKSODUS 18:1-21:36AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS