Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 226

Bybelteks(te)

ESEGIËL 32

'n Treurlied oor die farao

1Op die eerste van die twaalfde maand, in die twaalfde jaar, het die woord van die Here tot my gekom: 2“Mens, sing 'n treurlied oor die farao, koning van Egipte. Jy moet oor hom sê:

“Jy was soos 'n leeu onder die nasies,

maar jy is tot swye gebring.

Jy was soos die groot monster in die see,

jy het jou rivierwaters laat kook,

die waters troebel gemaak met jou voete,

die riviere modderig laat word.”

3So sê die Here my God:

“Tussen die baie nasies wat saamgekom het,

gooi Ek my vangnet oor jou,

en hulle trek jou op in my net.

4Ek gooi jou op die grond,

Ek slinger jou die veld in,

Ek laat al die voëls op jou kom sit,

Ek laat die roofdiere hulle vol vreet aan jou.

5Ek sit jou vleis op die berge neer,

Ek maak die valleie daarmee vol.

6Met jou bloed wat op die berge uitgeloop het,

deurweek Ek die grond;

selfs die spruite word vol van jou bloed.

7Wanneer Ek jou tot niet maak, maak Ek die hemel toe

en laat Ek die sterre se lig nie deurkom nie,

Ek maak die son toe met 'n wolk,

en die maan sal nie skyn nie.

8Ek laat al die hemelliggame treur oor jou

en maak dit donker op die aarde,

sê die Here my God.

9“Wanneer Ek jou ondergang bekend laat word onder nasies

in lande waarvan jy nie eens geweet het nie,

sal Ek al die volke ontsteld laat raak.

10Ek laat al die volke verskrik staan

oor wat met jou gebeur;

hulle konings se hare sal rys oor wat met jou gebeur

wanneer Ek voor hulle oë my swaard swaai.

Hulle sal sidder van angs oor hulle eie lewens

dié dag wanneer jy tot 'n val kom.”

11So sê die Here my God:

“Die koning van Babel se swaard is in aantog teen jou:

12Ek laat jou hordes val voor die aanslag van sy soldate,

almal wrede mense;

hulle sal die trots van Egipte vernietig,

sy hele leër sal uitgeroei word.

13Ek roei al sy vee uit

daar langs die baie water.

Die water sal nie meer geroer word deur die voet van 'n mens

of modderig gemaak word deur vee se pote nie.

14Dan sal Ek die water weer helder laat word

en Egipte se strome so rustig laat vloei soos strome olie,”

sê die Here my God.

15“Wanneer Ek Egipte 'n verlate land maak,

hom stroop van wat in hom is,

wanneer Ek al sy inwoners laat omkom,

sal hulle besef dat Ek die Here is.

16Dit is die treurlied wat gesing sal word;

die vroue van ander nasies sal dit sing,

hulle sal dit sing oor Egipte en al sy hordes,”

sê die Here my God.

Jy kom saam met die eerloses tot 'n einde, Egipte

17Op die vyftiende van die maand, in die twaalfde jaar, het die woord van die Here tot my gekom: 18“Mens, sing vir die hordes van Egipte die lied wat vir dooies gesing word.

“Stuur hulle en ook die ander magtige nasies af

in die graf in na dié toe wat reeds dood is.

19Moet dit met julle beter gaan as met ander?

Gaan af, gaan lê by die eerloses!

20Hulle val tussen dié wat gesneuwel het.

Die swaard het sy werk gedoen:

Egipte en al sy hordes word weggesleep.

21Uit die graf sê die magtige krygsmanne

oor Egipte en sy helpers:

‘Hulle is af graf toe, hulle lê by die eerloses,

by dié wat gesneuwel het!’

22Assirië en sy hele leërmag is daar.

Rondom hom lê die grafte van sy mense,

almal dood, afgemaai deur die swaard.

23Sy grafte lê diep in die doderyk;

rondom hom lê sy leërmag begrawe,

almal dood, afgemaai deur die swaard,

dié mense wat verskrikking gesaai het

in die land van die lewendes.

24“Elam en al sy hordes is daar;

hulle lê rondom hom begrawe,

almal dood, afgemaai deur die swaard.

Dié mense wat eerloos af is na die doderyk toe,

is die mense wat verskrikking gesaai het

in die land van die lewendes.

Nou dra hulle hulle vernedering

saam met dié wat reeds dood is.

25Elam het sy plek gekry tussen die dooies,

met die grafte van al sy hordes rondom hom,

almal eerloos afgemaai deur die swaard.

Hulle het verskrikking gesaai in die land van die lewendes,

maar nou dra hulle hulle vernedering

saam met dié wat reeds dood is;

hulle het tussen die dooies beland.

26“Mesek-Tubal en al sy hordes is daar;

hulle grafte lê rondom syne;

almal is eerloos deurboor met die swaard.

Hulle het verskrikking gesaai in die land van die lewendes,

27maar hulle lê nie by die krygsmanne

wat eervol gesneuwel het nie,

dié wat af is doderyk toe met hulle wapens,

wie se swaarde onder hulle koppe gesit is

en wie se skilde oor hulle bene lê.

Mesek-Tubal en sy hordes het verskrikking gesaai

in die land van die lewendes.

28“Jy kom saam met die eerloses tot 'n einde, Egipte,

jy moet by dié wat deur die swaard afgemaai is, gaan lê.

29“Edom, sy konings, al sy regeerders is daar;

ten spyte van hulle mag het hulle beland

by dié wat afgemaai is deur die swaard;

hulle lê by die eerloses, by dié wat reeds dood is.

30“Die vorste van die noorde is daar,

hulle almal en al die Sidoniërs.

Dié mense wat met hulle mag verskrikking gesaai het,

het die neerlaag gely

en lê eerloos by dié wat afgemaai is deur die swaard;

hulle dra hulle vernedering saam met dié wat reeds dood is.

31“Wanneer die farao hulle sien,

sal dit vir hom 'n troos wees

as hy dink aan al sy hordes wat gesneuwel het,

die farao met sy hele leër,”

sê die Here my God.

32“Ek het hom toegelaat om verskrikking te saai

in die land van die lewendes,

maar nou moet hy tussen die eerloses gaan lê,

by dié wat gesneuwel het,

hy, die farao, en al sy hordes,”

sê die Here my God.

ESEGIËL 33

Ek sal elke mens oordeel volgens sy doen en late

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, praat met die mense van jou volk en sê vir hulle: Wanneer Ek oorlog oor 'n land bring, en die mense van die land vat een van hulle en stel hom as 'n wag aan, 3en hy sien die vyand aankom en blaas die ramshoring en waarsku sy mense, 4en hulle hoor die ramshoring maar slaan nie ag op die waarskuwing nie, dan is hulle verantwoordelik vir hulle eie dood. 5Hulle het die ramshoring gehoor maar nie op die waarskuwing ag geslaan nie, hulle is self verantwoordelik vir hulle dood. Dit is net dié wat op die waarskuwing ag slaan, wat hulle lewens red. 6Maar wanneer die wag die vyand sien aankom en nie die ramshoring blaas sodat die mense gewaarsku word nie, en die vyand kom en maak party van die land se mense dood, dan sterf dié mense wel deur hulle eie sonde, maar Ek sal van die wag rekenskap eis vir hulle dood.

7“Mens, Ek het jou die wag vir Israel gemaak. Wanneer jy by My die opdrag ontvang, moet jy hulle namens My waarsku. 8Wanneer Ek van die goddelose sê dat hy sal sterwe, en jy praat nie en waarsku hom nie oor sy doen en late nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar Ek sal jou verantwoordelik hou vir sy dood. 9Wanneer jy die goddelose waarsku oor sy optrede om hom daarvan te laat afsien, en hy sien nie daarvan af nie, dan sterf hy deur sy sonde en het jy jou eie lewe behou.

10“Mens, jy moet vir Israel sê: Julle sê: ‘Ons opstandigheid, ons sonde rus swaar op ons, ons vergaan daaronder, hoe kan ons nog lewe?’

11“Sê vir hulle: So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle bose optrede! Waarom wil julle sterf, Israel?

12“Mens, jy moet vir die mense van jou volk sê: Die goeie dade van 'n goeie mens sal hom nie red die dag as hy teen My in opstand kom nie, en die slegte dade van 'n goddelose sal nie teen hom tel die dag as hy hom van sy slegte dade bekeer nie. Die goeie mens sal nie deur sy goeie dade bly lewe die dag as hy sondig nie. 13Wanneer Ek vir 'n goeie mens sê hy sal die lewe behou, en hy vertrou op sy goeie dade en hy pleeg onreg, sal al sy goeie dade nie in sy guns tel nie; hy sal sterf omdat hy onreg gepleeg het. 14En wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy sal sekerlik sterwe, en hy bekeer hom van sy sonde en hy laat reg geskied en doen reg, 15hy gee die goed terug wat hy as waarborg vir skuld gevat het, hy betaal terug wat hy geroof het, hy lewe volgens die voorskrifte wat lewe gee en hy pleeg nie onreg nie, sal hy lewe, hy sal nie sterwe nie. 16Al die sonde wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy laat nou reg geskied en hy doen reg, en daarom sal hy in die lewe bly.

17“Die mense van jou volk sê: ‘Die Here tree nie reg op nie,’ maar dit is hulle wat nie reg optree nie. 18Wanneer 'n goeie mens sy goeie dade laat vaar en onreg pleeg, sterf hy oor die onreg. 19Wanneer 'n goddelose afsien van sy slegte dade en reg laat geskied en reg doen, bly hy daaroor in die lewe. 20Julle sê: ‘Die Here tree nie reg op nie,’ Israel? Ek sal elke mens onder julle oordeel volgens sy doen en late.”

Jerusalem is ingeneem

21Op die vyfde van die tiende maand, in die twaalfde jaar van ons ballingskap, het daar iemand by my aangekom wat uit Jerusalem ontsnap het en vir my gesê: “Die stad is ingeneem!” 22Die mag van die Here het my in besit geneem die aand voor die ontsnapte gekom het. Die Here het my in staat gestel om weer te praat voordat die man die oggend by my gekom het. Die Here het my in staat gestel om weer te praat, ek was nie meer stom nie.

Ek maak Israel 'n verlate, verwoeste plek

23Die woord van die Here het tot my gekom: 24“Mens, dié wat daar tussen die puinhope in Israel woon, sê: ‘Abraham was net een mens, en hy het die land as besitting ontvang. Ons is baie; dié land is aan ons gegee as 'n besitting!’ 25Sê vir hulle: So sê die Here my God: Julle het aan heidense offermaaltye deelgeneem, julle het by julle afgode hulp gesoek, julle het bloed vergiet, en julle wil die land as besitting hê? 26Julle staan met die swaard in die hand, julle doen afskuwelike dinge, julle onteer mekaar se vrouens, en julle wil die land as besitting hê?

27“Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God: So seker as Ek leef, wie daar tussen die puinhope is, sal afgemaai word met die swaard; wie in die veld is, sal kos word vir die roofdiere; wie in die berge en grotte skuil, sal aan pes doodgaan. 28Ek maak die land 'n verlate, verwoeste plek; Ek maak 'n einde aan die mag waarop hulle hulle beroem. Die berge van Israel sal verlate wees; niemand sal daar kom nie. 29Wanneer Ek die land 'n verlate, verwoeste plek maak oor al die afskuwelike dinge wat hulle gedoen het, sal hulle besef dat Ek die Here is.”

Hulle sal besef dat daar 'n profeet tussen hulle was

30“Mens, die mense van jou volk praat oor jou oral langs die mure en by die ingange van die huise. Hulle sê vir mekaar: ‘Kom hoor watter boodskap daar van die Here af gekom het’, 31hulle kom na jou toe asof dit 'n volksoptog is, hulle gaan sit voor jou, hierdie volk van My, en hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen nie wat jy sê nie. Al wat hulle doen, is om aan die begeertes toe te gee waaroor hulle gedurig praat; hulle is net uit op wins vir hulleself. 32Jy is vir hulle maar net soos iemand wat met 'n mooi stem liedjies vol begeerte sing en die lier goed speel; hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen niks van wat jy sê nie. 33Maar wanneer wat jy sê, uitkom, en uitkom sál dit, sal hulle besef dat daar 'n profeet tussen hulle was.”

ESEGIËL 32:1-33:33AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.28.1
VOLG ONS