Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 82

Bybelteks(te)

1 SAMUEL 15

Saul as koning verwerp

1Samuel het vir Saul gesê: “Dit is vir my wat die Here gestuur het om jou tot koning oor sy volk Israel te salf. Luister nou na die woorde van die Here. 2So het die Here die Almagtige gesê: Ek het nie vergeet wat Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het. 3Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie.”

4Saul het die manskappe opgeroep. Hy het hulle by Telaim getel: twee honderd afdelings voetsoldate en tien afdelings uit Juda. 5Saul het by die woonplek van die Amalekiete aangekom en sy manskappe laat stelling inneem by 'n spruit.

6Toe het Saul die Keniete laat weet: “Gee gou pad tussen die Amalekiete uit sodat ek julle nie saam met hulle uit die weg ruim nie, want julle het die Israeliete goed behandel toe hulle uit Egipte getrek het.”

Die Keniete het toe tussen die Amalekiete uit padgegee. 7Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot waar 'n mens kom by Sur teenoor Egipte. 8Hy het koning Agag van Amalek lewend gevang, maar die hele volk om die lewe gebring. 9Saul en die manskappe het Agag gespaar en ook die mooiste kleinvee en beeste, die vetstes, en die lammers en alles wat mooi was. Saul-hulle wou dit alles nie om die lewe bring nie. Al die vee wat swak en waardeloos was, het hulle wel van kant gemaak.

10Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: 11“Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.”

Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek.

12Die oggend het Samuel hom vroeg klaargemaak om Saul te ontmoet. Iemand het vir Samuel vertel: “Saul het by Karmel gekom en nogal vir homself 'n gedenkteken opgerig. Daarna het hy omgedraai en is hy verby na Gilgal toe.”

13Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.”

14Samuel vra toe: “Wat vir 'n geblêr van kleinvee is daar dan in my ore? En wat van die gebulk van beeste wat ek hoor?”

15“Hulle het dit van die Amalekiete af gebring,” antwoord Saul. “Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak.”

16En Samuel sê vir Saul: “Bly stil! Laat ek jou vertel wat die Here vannag vir my gesê het.”

Saul sê toe vir hom: “Praat maar.”

17Toe sê Samuel: “Al is jy klein in jou eie oë, is jy tog die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf tot koning oor Israel. 18Die Here het jou met 'n doel uitgestuur en Hy het jou beveel: ‘Trek op, bring die sondaars, die Amalekiete, om die lewe. Jy moet teen hulle veg totdat jy hulle uitgeroei het.’ 19Waarom het jy nie na die bevel van die Here geluister nie? En waarom het jy jou aan die buit vergryp en hierdie ding gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?”

20Saul antwoord toe vir Samuel: “Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring. 21Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat, die beste van dié wat van kant gemaak moes word, om aan die Here u God in Gilgal te offer.”

22Maar Samuel antwoord:

“Is brandoffers en ander diereoffers

net so aanneemlik vir die Here

as gehoorsaamheid aan sy bevel?

Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande,

om te luister is beter as die vet van ramme.

23Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery;

eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.

Omdat jy die woord van die Here verwerp het,

het Hy jou as koning verwerp.”

24Saul sê toe vir Samuel: “Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het.

25“Vergewe tog nou my sonde en kom saam met my sodat ek tot die Here kan bid.”

26Maar Samuel sê vir Saul: “Ek sal nie saam met jou gaan nie, want jy het die woord van die Here verwerp en die Here het jou verwerp as koning oor Israel.”

27Samuel het weggedraai om te loop, maar Saul het die punt van sy mantel gegryp, en dit het geskeur.

28Toe sê Samuel vir hom: “Die Here het die koningskap van Israel nou van jou afgeskeur en dit gegee aan jou naaste wat beter is as jy. 29Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.”

30“Ek het gesondig,” sê Saul toe. “Eer my tog net voor die leiers van die volk en voor Israel deur saam met my te kom sodat ek die Here u God kan aanbid.”

31Samuel het met Saul saamgegaan, en Saul het die Here aanbid.

32Toe beveel Samuel: “Bring vir koning Agag van Amalek na my toe.”

Agag het opgeruimd na hom toe geloop en gesê: “Nou is ek nie meer bang dat hulle my sal doodmaak nie.”

33Samuel het vir hom gesê: “Soos jou swaard vrouens kinderloos gemaak het, so sal jou ma onder die vrouens kinderloos wees.”

En Samuel het vir Agag in stukke gekap voor die Here in Gilgal. 34Samuel het na Rama toe gegaan, terwyl Saul na sy huis toe in Gibea gegaan het. 35Tot die dag van sy dood het Samuel nie weer vir Saul gesien nie. Samuel het oor Saul getreur, en die Here was bedroef daaroor dat Hy vir Saul koning oor Israel gemaak het.

1 SAMUEL 16

Samuel salf 'n ander koning

1Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het? Maak 'n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My 'n koning.”

2Samuel vra toe: “Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.”

En die Here sê vir hom: “Neem 'n vers saam en sê: ‘Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring.’ 3Nooi dan vir Isai na die offer toe. Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Salf vir My dié een wat Ek jou sal beveel.”

4Samuel het gedoen wat die Here gesê het. By sy aankoms in Betlehem het die leiers van die stad hom ontsteld tegemoet gekom en gesê: “Kom u in vrede?”

5En hy het gesê: “Ja. Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe.”

Hyself het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer toe genooi. 6Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink: die gesalfde van die Here staan hier voor die Here.

7Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

8Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan en hy dink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 9Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan, maar Samuel het gedink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 10Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

11Daarop het Samuel vir Isai gevra: “Is dit al jou seuns dié?” En hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar hy pas nou skape op.”

Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons eet nie voordat hy hier is nie.” 12Isai het hom laat haal. Hy het 'n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en 'n goeie voorkoms.

Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hý.”

13Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan.

Dawid speel vir Saul op die lier

14Maar die Gees van die Here het van Saul gewyk, en 'n bose gees wat deur die Here gestuur is, het hom voortdurend ontstel. 15Die amptenare van Saul het vir hom gesê: “U word ontstel deur 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is. 16Die koning moet maar net praat, dan soek ons iemand wat die lier kan speel. As die boosaardige gees u pla, kan die man speel, en u sal beter voel.”

17Saul sê toe vir sy amptenare: “Kyk maar vir my uit na 'n man wat goed kan speel en bring hom na my toe.”

18Een van die amptenare antwoord hom: “Ek het 'n seun van Isai die Betlehemmer hoor speel. Hy is 'n dapper man en 'n goeie vegter. Hy kan sy woord goed doen en het 'n goeie voorkoms. Die Here is by hom.”

19Saul het boodskappers na Isai toe gestuur met die versoek: “Stuur jou seun Dawid wat by die kleinvee is, na my toe.”

20Isai het toe brood, 'n sak wyn en 'n klein bokkie gevat en dit op 'n donkie met sy seun Dawid na Saul toe gestuur. 21So het Dawid dan by Saul gekom en vir hom gewerk. Saul het baie van Dawid gehou, sodat hy Saul se wapendraer geword het. 22Saul het ook na Isai toe gestuur en laat vra: “Laat Dawid tog vir my werk, ek hou van hom.”

23Telkens wanneer die boosaardige gees in Saul was, het Dawid die lier gevat en daarop gespeel. Dan het Saul bedaar, en die boosaardige gees het van hom af padgegee.

1 SAMUEL 17

Goliat verkleineer Saul se leër

1Die Filistyne het hulle krygsmag opgeroep. Hulle het bymekaargekom in Soko wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan in Efes-Dammim tussen Soko en Aseka. 2Saul en die manskappe van Israel het bymekaargekom en kamp opgeslaan in die laagte by die groot boom en teenoor die Filistyne stelling ingeneem om te veg. 3Die Filistyne het teen die een rant gestaan, en die Israeliete teen die ander, met 'n smal vallei tussen hulle. 4Toe kom daar 'n baasvegter uit die laer van die Filistyne uit. Sy naam was Goliat en hy was afkomstig uit Gat. Hy was drie meter lank. 5Daar was 'n bronshelm op sy kop, en hy het 'n harnas met skubbe aangehad. Die gewig van die harnas was sewe en vyftig kilogram. 6Daar was bronsskerms voor sy bene en tussen sy wapens was daar 'n bronsswaard. 7Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel, en die ysterlem daarvan was sewe kilogram. Sy skilddraer het voor hom uit geloop.

8Goliat het gaan staan en na die linies van Israel geroep. Hy het vir hulle gesê: “Waarom het julle uitgekom om gevegslinies op te stel? Is ek nie 'n Filistyn en julle almal Saul se slawe nie? Kies vir julle iemand om na my toe uit te kom. 9As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees. As ek hom baasraak en verslaan, sal julle ons slawe wees en vir ons werk.”

10Verder het die Filistyn nog gesê: “Ek staan die linies van Israel al heeldag en verkleineer! Gee my tog iemand dat ons teen mekaar kan veg.”

11Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle geskrik en baie bang geword.

12Dawid was die seun van 'n Efratiet, iemand uit Betlehem in Juda met die naam Isai. Hy het ag seuns gehad. In die tyd van Saul was hierdie man al oud en afgeleef. 13Die drie oudste seuns van Isai het Saul na die oorlog toe gevolg. Die name van die drie seuns wat gaan veg het, was Eliab die oudste, Abinadab die tweede, en Samma die derde. 14Dawid was die jongste. Die drie oudstes het pal met Saul saamgegaan, 15maar Dawid het om die beurt na Saul toe gegaan en dan weer sy pa se kleinvee in Betlehem gaan oppas.

16Die Filistyn het veertig dae lank vroeg in die môre en teen die aand nader gekom en regoor die Israeliete gaan staan.

17Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Vat tog vir jou broers sestien kilogram gebraaide koring en tien brode en bring dit gou vir hulle in die kamp. 18Die tien kase moet jy na die aanvoerder van die afdeling toe vat. Dan moet jy sommer kyk of dit nog goed gaan met jou broers, en 'n bewys daarvan saambring. 19Saul en jou broers en die hele Israel is in die laagte by die groot boom aan die veg teen die Filistyne.”

20Dawid het die môre vroeg opgestaan, die kleinvee aan die wagter afgegee, die goed opgetel en gegaan soos Isai hom beveel het. Net toe hy by die kamp aankom, het die leër wat na die gevegslinie toe uitgaan, die oorlogskreet aangehef. 21Israel en die Filistyne het naamlik in linies teenoor mekaar stelling ingeneem. 22Dawid het die pak wat hy gedra het, onder die sorg gelaat van die man wat die goed oppas, en na die linies toe gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan, 23en terwyl hy nog met hulle praat, kom die baasvegter Goliat die Filistyn uit Gat juis uit die linies van die Filistyne vorentoe en hy praat weer so. Dawid het dit gehoor. 24Toe die Israeliete die man sien, het hulle almal vir hom gevlug en hulle was baie bang.

25'n Israeliet sê toe: “Julle sien hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom net om Israel te verkleineer. Die man wat hom verslaan – die koning sal daardie man baie ryk maak en sy dogter aan hom gee, en die man se familie sal in Israel van alle verpligtinge vrygestel wees.”

26Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra: “Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?”

27Die manskappe het dieselfde vir hom gesê: “So sal gedoen word aan die man deur wie die Filistyn verslaan word.”

28Dawid se oudste broer Eliab het gehoor wat hy met die manskappe praat en Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die droëveld afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Het jy net hierheen gekom om na die geveg te kyk?”

29Toe sê Dawid: “Wat het ek nou gedoen? Is dit dan nie 'n belangrike saak nie?”

30Dawid het van hom af weggedraai na 'n ander een toe en dieselfde gevra, en die manskap het geantwoord soos die eerste.

1 SAMUEL 15:1-17:30AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.7
VOLG ONS