Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Begin nuut … – Dag 13

Begin nuut … om God te vra vir hulp

Bybelteks(te)

MATTEUS 7

Gebedsverhoring

7“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word,

JAKOBUS 4

2Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.

MARKUS 11

24Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

MARKUS 11:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek deel graag drie getuienisse om te wys dat God ons gebede hoor.

Leser 1, Anton: “Vandat ek ʼn jaar gelede vir die eerste keer met oorpyn begin sukkel het, was ek min of meer sewe keer by dokters. Elke keer het die salf of pille wat hulle vir my voorgeskryf het vir ʼn rukkie gehelp voordat die pyn teruggekeer het. Aangesien ek ʼn radio-omroeper is en daagliks oorfone dra, het dit die situasie vererger.

Uit desperaatheid het ek verlede Sondag ná kerk vorentoe gegaan dat die predikant en van die ouderlinge my salf en vir my bid. Hoewel ek geen verskil gevoel het nie, het twee van die mans vir my gesê dat hulle ervaar dat ek vir God moet begin dankie sê vir my genesing al ervaar ek dit nog nie. Die pyn het vererger en teen Dinsdag was ek op pad na die oorspesialis.

Dié keer het die dokter, tydens ʼn lang ondersoek, met sy mikroskoop tot teenaan my oordrom gekyk. Tot sy verbasing het hy ʼn stukkie watte ontdek wat van die oorpluisie losgekom en agtergebly het! Dit het die ontsteking en oorpyn veroorsaak. Die dokter het dit verwyder en sowat ʼn halfuur later kon ek reeds voel hoe die pyn besig was om op te klaar.

Hoewel verskeie dokters my voorheen ondersoek het, was dit asof God hierdie keer die dokter deur sy Heilige Gees gelei het na die kern van die probleem. Gebed het waarlik krag en al die eer gaan aan God!”

Leser 2, Johan: “Ek is ʼn paramedikus in Mosambiek. ʼn Tyd gelede ontvang ek een aand ʼn oproep van ʼn 60-jarige man wat sê dat hy pyn op sy borskas het dat dat hy sukkel om asem te haal. Ek het elke moontlike toets gedoen om die oorsaak te bepaal, maar geen abnormaliteite gevind nie. Die pyn het vererger en ek het geweet dat ek dadelik moes optree om langtermynskade aan sy hart te verhoed.

ʼn Hewige storm het losgebars en ʼn mediese vlug na Suid-Afrika was onmoontlik. Terwyl die man se simptome vererger het, het ek desperaat tot God gebid en Hom vir ʼn wonderwerk gesmeek. Aangesien mediese dienste in Mosambiek meer primitief as in Suid-Afrika is, het dit vir my gevoel asof my hande afgekap is. Ek het geweet dat die man kon sterf indien sy simptome nie vinnig verander nie.

Na my gebed het ʼn verandering ingetree en binne die volgende twee ure het die man se pyn soveel verminder dat hy rustig kon slaap. Daardie volgende oggend kon ons vir hom ʼn plek aan boord ʼn vlug kry (nog ʼn wonderwerk) wat hom na ʼn spesialis geneem het. Tydens hierdie situasie het ek beleef dat God ons wil help. Hy wag net dat ons Hom om hulp vra!”

Leser 3, Annalie: “ʼn Paar jaar gelede het ek en ʼn kollega as passasiers aan boord ʼn viersitplekvliegtuig vanaf die Randse Lughawe na Harding gevlieg. Ons was net oor Vereniging toe ons ʼn harde slag hoor en die vliegtuig begin hoogte verloor het. Die vlieënier het gesê hy gaan eerder ʼn noodlanding doen as om oor die Drakensberge te probeer vlieg.

Met die besef dat die grond vinnig naderkom, het ek na God uitgeroep en Hom gevra om ons te help om veilig te land. Die vlieënier het ʼn groen veld met ʼn gelyke oppvervlakte gesien en besluit om daar te land. Ons was reeds baie naby aan die grond toe dit voel asof iemand die vliegtuig optel en ʼn paar meter verder op die grond neersit.

Ons het ongedeerd uit die vliegtuig geklim en besef dat ons ʼn paar meter vanaf ʼn groot rots gestop het. Ons volgende ontdekking was dat die veld wat uit die lug “groen en gelyk” voorgekom het eintlik baie rotsagtig was. As ons geland het waar die vlieënier aanvanklik beplan het om te land, sou ons heel moontlik gesterf het! Daardie dag het ek besef dat God by ons was en dat Hy ons oor die rotse getel het tot waar ons veilig kon land!”

Anton, Johan en Annalie is reg. God begeer dat ons Hom vra om ons te help. Luister maar na die woorde in Matteus 7:7: “Vra, en vir julle sal gegee word …” In Jakobus 4:2b lees ons: “Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.” En in Markus 11:24 staan geskryf: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”

Wat pla jou vandag? Waarom vra jy nie ook vir God om jou daarmee te help nie? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.29.1
VOLG ONS