Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Begin nuut … – Dag 15

Begin nuut ... om vriende te maak

Bybelteks(te)

HEBREËRS 13

5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

HEBREËRS 13:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer ek lesers se e-posse lees of na gesprekke rondom my luister, wonder ek of daar nie ʼn nuwe epidemie tussen ons ingesluip het nie, naamlik eensaamheid. ʼn Siekte wat jy nie met bloedtoetse kan diagnoseer nie, maar wat stadig aan jou siel vreet en jou selfvertroue vernietig.

Ek luister op ʼn dag na ʼn vrou wat in trane vertel hoe sy soms so eensaam en alleen voel dat sy met haar kombuismure gesels – net om te voel dat daar iemand saam met haar in haar huis is. Is dit hoe jy vandag voel?

Maar hoe maak ʼn mens nuwe vriende?

In 1920 het die sielkundige George W. Crane sosiale sielkunde aan die Universiteit van die Noordweste in Chicago begin aanbied. In een van sy klasse, wat meestal deur jong volwassenes bygewoon is wat bedags in fabrieke, kantore en afdelingswinkels gewerk het, het ʼn jong dame met die naam Lois gesit.

Nadat Lois ʼn werk in Chicago gekry het, het sy haar vriende en familie in ʼn klein plattelandse dorpie in Wisconsin agtergelaat en na Chicago verhuis. Hier het die eensaamheid haar oorweldig. Na een van Crane se aandklasse het sy aan hom vertel hoe geïsoleerd sy voel en hoe sy saans allen sit en briewe aan haar geliefdes by die huis skryf. Hierdie gesprek het vir Crane ʼn idee vir ʼn nuwe projek gegee en hy het dit die “Komplimentevereniging” genoem.

Om die projek te slaag moes elke student vir dertig dae lank daagliks drie eerlike komplimente aan drie verskillende mense gee. Aan die einde van die dertig dae moes elke student ʼn opstel skryf oor sy of haar ondervinding, hoe dit die mense om hulle asook hulle eie uitkyk op die lewe beïnvloed het.

Die studente het almal besluit om aan die projek deel te neem, alhowel die meeste van die studente negatief daaroor was uit vrees dat hulle verwerp sou word.

Terwyl Crane die projekopstelle van sy studente deurgelees het, was daar telkens ʼn glimlag op sy gesig. Nie net het elke student vertel hoe sy of haar eerlike komplimente ʼn positiewe uitwerking op die mense rondom hulle gehad het nie. Bykans al die studente het vertel dat hierdie projek hulle uitkyk op die lewe en hulle optrede teenoor hulle medemens totaal verander het.

Ook Lois se lewe is ingrypend verander. Met die hulp van hierdie projek het sy ʼn sprankelende mens geword en in haar tyd in Chicago meer en beter vriende gemaak as wat sy ooit in Wisconsin gehad het.

Voel jy vandag eensaam? Ek wil jou bemoedig met God se woorde in Hebreërs 13:5: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Begin vandag om die “Komplimentevereniging” se beginsels in jou lewe toe te pas. Reik eerste uit na die mense rondom jou. Soek na geleenthede om ander eerlik te komplimenteer. En wie weet, dalk mag jy nes Lois verbaas staan oor die verandering wat dit in jou lewe sal bring! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS