Begin nuut … – Dag 16
Begin nuut ... dank Hom vir die dorings
Bybelteks(te)
2 KORINTIËRS 12
Op die plaas in die Vrystaat waar ek grootgeword het, het ons as kinders gereeld in die somer kaalvoet buite baljaar. Wanneer ons egter in die veld vol dorings wou stap, moes ons óf terughardloop huis toe om skoene aan te trek óf iemand met skoene moes ons optel en ons oor die dorings dra totdat ons weer gemaklik kon stap.
In ons lewens is ons ook van tyd tot tyd in situasies waar dit voel asof ʼn klomp dorings op ons pad is – of erger, dit voel of dit in ons vlees is. Hierdie dorings kom in verskillende vorms, soos ʼn moeilike huweliksmaat, ʼn rebelse kind, ʼn siekte wat jou liggaam swak maak, ʼn begeerte vir ʼn baba van jou eie, skuld wat jou wil oorweldig of ʼn uitdaging in die werkplek.
Het jy al opgelet wat meestal in hierdie tye gebeur? Ons hardloop terug na God. Ons bid meer desperaat terwyl ons besef dat net Hy aan ons ʼn deurbraak kan gee. Wanneer ons dan die deurbraak beleef, getuig ons hoe Hy ons deurgedra het en ons gebede verhoor het. Die waarheid is dít: Dorings trek ons nader na God en help ons om sy liefde vir ons, en sy vermoë om die onmoontlike moontlik te maak, nuut te ontdek.
Paulus het ook oor ʼn doring in sy vlees geskryf. Luister na sy woorde in 2 Korintiërs 12:7-9: “Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ʼn doring in die vlees gegee, ʼn boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’ ”
Is daar dorings wat vandag voor jou in jou pad lê? Of voel dit asof ʼn doring van vrees en bekommernis in jou hart sit? Onthou, God kan jou optel en jou deur hierdie krisis dra. Hy wil vir jou skoene aan jou voete trek en die pyn wegneem.
Kom ons dank Hom vir die dorings eerder as om heeltyd te kla. Jy mag dalk oor ʼn rukkie terugkyk na hierdie oomblik en besef dat jy iets nuut van sy liefde vir jou ontdek het. Sterkte.