Begin nuut … – Dag 21
Begin nuut ... om sy wil vir jou lewe te soek
Bybelteks(te)
MATTEUS 6
In die weermag was ʼn jongman wat gereeld deur die bevelvoerder en troepe afgekraak is omdat hy ʼn verhouding met God gehad het. Op ʼn dag besluit die bevelvoerder om die jongman voor die troepe te verneder soos nog nooit vantevore. Hy roep die man en oorhandig aan hom die trok se sleutels om dit voor die ry geparkeerde motors te gaan parkeer. Die bevelvoerder het geweet dat die jongman nie kan bestuur nie.
Op die jongman se reaksie dat hy nie kan bestuur nie, het die bevelvoerder gelag en minagtend geantwoord: “Nou waarom vra jy nie jou God vir ʼn wonderwerk nie?” Die jongman het die sleutels van die trok gevat en biddend daarheen gestap. Hy het geweet dat God hom kon help en ook dat hy selfs dié situasie kon gebruik om sy Naam te verheerlik.
Die man het in die trok geklim, dit aangeskakel en tot die verbasing van die bevelvoerder en troepe die trok netjies gestop waar die bevelvoerder dit wou hê. Toe hy uitklim, was die meeste van die troepe in trane. “Ons wil jou God dien,” het een hardop gesê. Die bevelvoerder, wat self aangedaan was, het na die trok gestap, die enjinkap opgelig en aan die troepe gewys dat daar nie eens ʼn enjin in die trok was nie. Hierop het die jongman geglimlag voordat hy nederig gesê het: “Sien julle, die God wat ek aanbid kan die onmoontlike moontlik maak. Hy kan selfs lewe blaas in iets wat nie eens bestaan nie!”
Wat het jy vandag in jou lewe nodig? Dapperheid? Guns? ʼn Deurbraak in ʼn saak wat vir jou onmoontlik lyk? Luister dan weer na die woorde in Matteus 6:33: “ … soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Onthou, vir die Israeliete het God ʼn pad deur die Rooi See gemaak toe die Egiptenare hulle van agter wou aanval. Vir Ester het God guns gegee toe sy by die koning vir die Israeliete se oorlewing moes gaan smeek. Vir Gideon het God bonatuurlike dapperheid gegee om met net 300 manskappe teen ʼn oormag te gaan veg. Vir Daniël het Hy die leeus se bekke gesluit. Vir Sadrag, Mesag en Abednego het Hy hulle uit die vuuroond gered. En op die Berg van Karmel het God vir Elia vuur gestuur om aan die profete van Baäl te demonstreer dat Hy die enigste lewende God is.
Niks is vir God onmoontlik nie. Hy kan jou help. Begin nuut om sy koninkryk en geregtigheid te soek en jy mag verbaas wees oor wat Hy vir jou kan doen! Sterkte.