Begin nuut … – Dag 4
Begin nuut ... met ʼn rein hart
Bybelteks(te)
PSALMS 24
MATTEUS 5
EFESIËRS 4
Riglyne vir die nuwe lewe
Naalde, knope, muntstukke, ʼn televisie-afstandbeheer, ʼn soutpot en beendere van diere. Dít is van die vreemde voorwerpe wat die afgelope 80 jaar tydens operasies in ʼn Kroatiese hospitaal uit pasiënte verwyder is. Hoewel hierdie items aanvanklik bewaar is om aan jong en voornemende mediese studente te demonstreer wat op hulle mag wag, het die hospitaal onlangs besluit om die versameling te raam en dit in die hospitaal te vertoon, tot die vermaak van besoekers.
Een van die redes waarom dokters vreemde voorwerpe so spoedig moontlik uit pasiënte moet verwyder is omdat dit ʼn infeksie kan veroorsaak wat later die pasiënt se hele liggaam kan affekteer.
Ongelukkig laat ons ook soms toe dat “vreemde voorwerpe” in die vorm van selfsug, jaloesie, trots, ʼn kort humeur, bitterheid en ʼn onvergewensgesindheid in ons harte posvat en groei. As ons nie toelaat dat God dit verwyder nie, gaan ons ook beleef hoe dit ʼn infeksie veroorsaak wat later ons hele lewe affekteer.
God is heilig en Hy begeer dat ons met ʼn rein hart voor Hom sal staan. In Psalm 24:3-4 lees ons: “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is …” In Matteus 5:8 sê Jesus: “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”
In Efesiërs 4:23-32 vind ons ʼn paar wenke hoe ons hierdie “vreemde voorwerpe” uit ons lewens kan hou: “Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig (…) As julle kwaad word, moenie sondig nie (…) Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom (…) Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.”
God is ons Chirurg. Omdat Hy ons liefhet, kan Hy sy skalpel nadertrek en die dinge uit ons harte sny wat ons geestelike doodmaak. Kom ons vra Hom dus om dit te doen voordat dit te laat is. Sterkte!