Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Begin nuut … – Dag 9

Begin nuut ... met die regte vrugte aan jou boom

Bybelteks(te)

GALASIËRS 5

19Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

GALASIËRS 5:19-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Veronderstel jy is mal oor perskes, maar allergies vir pruime. In jou opgewondenheid oor julle nuwe huis met die groot agterplaas, stop jy by die kwekery om vir jou ʼn perskeboom te koop wat jy daar gaan plant. As al die bome in die kwekery kaal en sonder vrugte is, hoe gaan jy watter boom werklik ʼn perskeboom is? Jy sal moet wag totdat die boom begin bot en vrugte dra, nie waar nie?

Wat sal jou reaksie wees as jy vir maande die boom met kunsmis en water versorg en op ʼn dag, wanneer die boom begin bot, besef dat jy per ongeluk ʼn pruimboom gekoop het wat reg langs die perskebome in die kwekery gestaan het?

Ons gelowiges kan met die bome in die kwekery vergelyk word. Ons noem onsself “Christenbome” wat potensieel die “Heilige Gees se vrug” kan dra. Die ware toets kom egter wanneer dit tyd is om te “bot”.

Hoe hanteer jy oomblikke waarin jou humeur beproef word, wanneer situasies in die werkplek anders verloop as wat jy beplan het, of situasies waartydens jy geleenthede het om jou vyand terug te kry vir wat hy of sy aan jou gedoen het? Kies jy om liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing deel van jou lewe te maak? Of dra jy die vrugte van rusie, woede, afguns en ander dergelike dinge?

In Galasiërs 5:19-22 lees ons van twee verskillende tipes vrugte wat elkeen van ons moontlik aan ons lewensboom kan dra:

Tipe 1: Vrugte van die sondige natuur

  • Galasiërs 5:19-21: “Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.”

Tipe 2: Vrugte van die heilige gees

  • Galasiërs 5:22: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.”

Dra jy vandag perskes of pruime aan jou takke? Moedig jou optrede die mense rondom jou aan om nader aan God te groei of om van Hom af weg te stap? Kom ons nooi die Heilige Gees nuut in ons lewens in sodat ons woorde en dade begin ooreenstem! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.25.3
VOLG ONS