Dagboek 2021 – 1 April
Eensaam tussen vriende
Bybelteks(te)
MATTEUS 26
Petrus sal Jesus verloën
Jesus in Getsemane
Ken jy die gevoel dat jy omring is van mense, maar tog oneindig eensaam? Mense wat vrolik rondom jou gesels en opgewonde lugkastele bou, en jy sit tussen hulle met spanning wat meedoënloos aan jou knaag. Oor ’n verhouding, of ’n transaksie, of inkomste, of ’n hangende hofgeding, of ’n beursaansoek of werksgeleentheid. Die ergste is as jy met jou ouers of eggenoot, jou familie of vriende probeer praat, maar hulle verstaan eenvoudig nie die diepte van jou worsteling nie.
So moes Jesus in sy krisisuur gevoel het. Hy het reeds vir sy dissipels gesê dat Hy aan mense oorgelewer gaan word om doodgemaak te word, dat een van dié wat vir oulaas saam met Hom eet, Hom sou verraai. Maar elkeen van hulle bepleit net sy eie onskuld. Dan sê Hy: Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Heftig ontken hulle dit; Petrus sweer hy sal Jesus om die dood nie verloën nie.
Al wat dan oorbly, is om te gaan bid. In Getsemane vat Jesus vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam as Hy Hom afsonder om in sy uur van nood te bid. Sekerlik moes sy dissipels teen dié tyd die erns en diepte van sy spanning gesien het. Hulle het mos die opbouende spanning van herhaalde konflik met die Joodse leiers beleef – hulle moes wéét watter risiko dit ingehou het. Jesus bid… en hulle dut. Drie maal. Jesus is tussen sy dissipels, en tog absoluut alleen.
Dit is ’n besondere aspek van Jesus se lyding: sy eensaamheid selfs in die kring van sy intiemste vriende, juis wanneer sy hemelse Vader nie sy desperate smeekgebed beantwoord nie. Dink jy jy is eensaam? Voel jy of God nie jou gebed verhoor nie? Die Here Jesus het dit self ervaar. Sy Gees tree vir jou in.
Verlate van u vriende, verlate Worstelaar;
verlate van die Vader – verlate Middelaar!
Net pyn en dors en duister is by U in u nood;
ontdaan van aardse luister, oorwin U tog die dood!
(Gesang 387:2)
Dr Wouter van Wyk, Sinodaal