Dagboek 2021 – 11 April
Om stil voor God te wees
Bybelteks(te)
DIE OPENBARING 4
God sit op die troon
DIE OPENBARING 8
Die sewende seël word oopgemaak
Baie navorsers sien Openbaring 8:1 as ’n antiklimaks. Ons het pas gelees van die eerste ses seëls wat deur die Lam oopgemaak word (Op 6), van ’n ontelbare hoeveelheid aanbidders voor die troon van God (Op 7), en dan kom Openbaring 8:1. Wanneer die sewende seël geopen word, bring dit net stilte na vore. Dit was egter nie ’n antiklimaks vir Johannes en sy gemeente nie, maar ’n ongelooflike mooi hoogtepunt.
Die antieke mense het gesê in die hemelruim is daar hemelse musiek. Hierdie hemelse musiek was gemaak deur die hemelse wesens soos engele. Maar hiermee saam is ook geglo dat die plante, die son, maan en sterre elkeen ’n hemelse wese was. So meen hierdie mense dan dat sulke groot en magtige voorwerpe tog nie kon beweeg sonder om ’n geluid te maak nie. Die gevolg was die oortuiging dat daar onophoudelik musiek in die hemel was.
Nie almal kon egter hierdie musiek hoor nie – slegs diegene wat toegang tot die hemelruim kon kry omdat hulle gesien is as heilige mense (dit wil sê profete). Johannes van Patmos was so ’n persoon. Hy getuig van hierdie hemelse musiek in Openbaring 4 wanneer hy verwys na die hemelse wesens wat sonder ophou dag en nag voor die troon van God die Here loof (Op 4:8, 10).
Maar dan kom Openbaring 8:1, en Johannes vertel dat wanneer hy in hierdie troonkamer staan en sien hoe die sewende seël deur die Lam oopgebreek word, daar vir ongeveer ’n halfuur lank stilte in die hemel neergedaal het (NDV). Die enigste wyse waarop daar vir ’n halfuur lank stilte in die hemelruim kon wees, is as die hemelligame, son, maan, sterre en plante, tot stilstand sou kom. En so, vir ’n halfuur lank, het die hele geskape kosmos in stille verwondering voor God se troon gestaan.
Mag ons ook so vandag ’n oomblik van stilte in God se teenwoordigheid neem en rustig word by ons Here en God.
Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria