Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 11 Desember

Opgewondenheid oor die Messias

Bybelteks(te)

JOHANNES 1

Die eerste dissipels

35Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. 36Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”

37Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. 38Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?”

39Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.”

Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.

40Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. 41Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus.

42Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus.

JOHANNES 1:35-42AFR83Maak oop in die Bybelleser

Kersfees is ’n tyd van opgewondenheid en vreugde. Deur die eeue het die mens gesnap dat God se liefde vir ons só na vore getree het – Hy het ons nie aan ons eie sondige lot oorgelaat nie. Andreas was een van hierdie mense wat sy opgewondenheid nie kon wegsteek nie. Hy het sy broer, Petrus, gaan soek en hom meegedeel: Ons het die Messias gekry! Die wyse waarop hy dit meedeel, is asof hy die grootste skat ontdek het.

Dáár is die Lam van God! Dit is die oorweldigende indruk wat Jesus op Johannes die Doper maak. Nie ’n indruk van vernaamheid of aansien nie. Nee, die Lam van God – wat die sonde van die wêreld wegneem, met ander woorde, ’n dienskneggestalte.

Johannes die Doper se twee volgelinge het Jesus daar en dan begin volg. Hulle was nie soseer geïnteresseerd in die plek waar Hy woon nie. Hul versoek was eerder om ongestoord gesprek met Hom te mag voer. Hulle verlang dat Hy die Skrifte met betrekking tot die Messias vir hulle sal uitlê. Jesus se uitnodiging om saam te kom, impliseer nie bloot dat hulle sy woonplek sou sien nie. Nee, hulle sou baie meer sien. Die skille sou van hulle oë afval – hulle sou “sien” dat Hy die Messias is.

Messias (Christus) beteken gesalfde, met ander woorde, die Een wat deur die Gees toegerus is om God se heilsplan met die wêreld uit te voer. Dit is niks anders nie as die wegneem van ons sondes. Al die konings na Dawid was potensiële messiasse, want die belofte is aan Dawid gemaak dat die Messias uit sy nageslag sou kom. Vanaf hierdie tyd het Israel begin uitsien na die koms van die Messias. Sy koningskap sou volmaak en ewigdurend wees.

Nou verstaan ons Andreas se opgewondenheid, want Christus het hom uit die Skrifte oortuig dat Hy die lank beloofde Messias is. Dit is ook die enigste manier waarop ons Hom leer ken – deur voortdurende gesprek met die Woord. Dis die kleed waarin Christus vandag nog na ons kom.

Gesang 336: 1, 2 en 5; Gesang 354: 1-4

Ds Petri de Kock, Pierneef

Bible Society of South Africav.4.25.3
VOLG ONS