Dagboek 2021 – 13 Desember
Die vreugde van Kersfees stuur af op lyding
Bybelteks(te)
MARKUS 9
Die verheerliking op die berg
Markus skryf ’n goeie teologie, ’n teologie van die kruis waarin navolgers soos ons van glorie en mag moet afsien. ’n Teologie van glorie en mag behels ’n messias wat in heerlikheid by ons teenwoordig is en dieselfde eienskappe aan ons oordra.
Markus wys dit af, want só is Christus nie by ons teenwoordig nie. Aan die einde wel, wanneer elke oog Hom sal sien. Tans is Christus teenwoordig in die vorm van die evangelie met al sy beloftes. In hierdie bedeling speel geloof ’n deurslaggewende rol – nie aanskoue, mag of glorie nie.
Tans geld die harde werklikheid van kruisdra en navolging. ’n Afdaal van die berg af na die laagtes van die gewone lewe met sy swaarkry. Gesag en prestige kan nie met die kruisweg gerym word nie, nederigheid en dienslewering wel. Deur die eeue het dit ware Christelike gemeenskappe gekenmerk.
Die stem uit die wolk sê twee dinge: Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom. Ses dae gelede wou Petrus en die ander juis nie na Hom luister nie. Geweldig dramaties skets Markus nou hierdie gebeure vir ons. Net die binnekring van die dissipels is saam met Jesus op die berg. En twee getuies van die Ou Testament. Heerlikheid en glorie, en dan nog die stem uit die wolk. En die boodskap? Moenie twyfel nie, moenie aanstoot neem nie, glo in Hom – Hy is inderdaad die Seun van God.
Die vraag is: Was hierdie ervaring op die berg vir die dissipels te min, of was dit genoeg? As hulle nou gaan afdaal na die laagtes van die gewone lewe, gaan hulle steeds hunker na meer? Of gaan hulle tevrede wees met ’n lydende Messias op sy kruisweg, Hom volg en so die lewe verkry?
En ons? Kan ons die vreugde van Kersfees rym met ’n Messias wat gekom het om vir ons te ly en te sterf? Christus se pad na verheerliking het geloop langs die weg van lyding, vernedering en verwerping. Dit is ook ons weg.
Gesang 390:1-2