Dagboek 2021 – 13 Julie
Aan wie gee God sy Gees?
Bybelteks(te)
1 JOHANNES 4
Die vals profete
Daar is baie Christene in die wêreld (veral Pinksterkerke) wat daarvan oortuig is dat God die Gees net onder bepaalde voorwaardes na iemand stuur of as gawe aan ons skenk. Een voorbeeld hiervan is Artikel 6 van Rhema Bible Church se Statement of Faith, wat tipies is van baie charismatiese kerke se standpunt: The baptism in the Holy Ghost is a gift from God as promised by the Lord Jesus Christ, and is received subsequent to the new birth. This experience is accompanied by the initial evidence of the speaking in tongues. Dit beteken dat die Heilige Gees net by dié mense is wat ’n spesifieke bekering ervaar het en as gevolg daarvan in vreemde tale gepraat het of vreemde klanke gebruik het. Die spreek in tale word gesien as die “bewys” dat die persoon die Heilige Gees ontvang het. Slegs as jy aantoonbaar en bewysbaar die Heilige Gees ontvang het, mag jy gedoop word.
In 1 Johannes 4 wys Johannes die gelowiges daarop dat daar baie vals profete is wat allerlei aansprake maak en die gelowiges verwar. Johannes beklemtoon dat elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. Daar is dus nie sprake van allerlei voorafgebeure wat die gawe van die Heilige Gees moontlik maak nie. Inteendeel, dit is deur die Gees dat alles gebeur. Omdat ons deur die genade van God die Gees ontvang het en die Gees in ons werk, kan ons glo en bely en ons tot God bekeer.
Dit gaan om die volgorde. Wat is eerste? Die mens se optrede of God se handelinge? As ek die Bybel reg verstaan, is dit altyd God wat die inisiatief neem. Ons geloof en bekering is die gevolg van die Heilige Gees se werk in ons en nie die voorwaarde wat bepaal of die Gees in ons sal woon nie.
Gesang 440:2 en 4
Prof Wim Dreyer, Universiteit van Pretoria