Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 15 April

Hoor jy die dreuning?

Bybelteks(te)

ESEGIËL 37

Ek sal julle terugbring

1Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in 'n laagte. Die laagte was vol bene. 2Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.

3Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”

Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.”

4Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! 5So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: 6Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

7Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek 'n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. 8Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. 9Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”

10Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was 'n baie groot menigte. 11Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.’ 12Tree op as profeet, sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe. 13Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. 14Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here.

ESEGIËL 37:1-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Geloof raam nie gruwels in goue randjies nie. Kyk, Esegiël, só lyk dit waar sonde sy sin kry. Esegiël maak twee gevolgtrekkings: Hier is dood, géén lewe nie; en hier is géén hoop op herlewing nie.

Vir die dood het ons nou nog nie ’n ander antwoord nie. Maar God is nie ’n mens nie, en Esegiël se verslaenheid word ’n belydenis van geloof: Gód kan nóg die onmoontlike doen. Die gelowige weet om nie te waag sê wat vir God moontlik is en wat nie, nie eens oor die dood nie.

Praat met hierdie droë doodsbeendere, Esegiël, sê God. Préék vir jou gemeente. Malligheid? Is dit minder mal om te preek vir sondaars, vir God se vyande, vir afvalliges, onverskilliges, ongehoorsames en balhoriges, vir hatiges en liefdeloses, vir wredes en woedendes en wildes? Gló jy maar net jy het met God te doen, en dóén dit.

Broers en Susters, begin Esegiël…

God gaan vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel. God gaan gees in julle inblaas.

En hoor jy die magtige dreuning? Die los bene begin rammelend in beweging kom, kom na mekaar toe aan, elkeen na die been wat by hom pas. Dat die Here met sy Woord skep, weet ons al. Maar dat die Here daardie skeppingswoorde in dominees se preke sit, is te groot vir my. Preek wéér vir hulle, sê die Here. Sê vir die gees: “Blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”

Dis ’n gelykenis. Israel is dood. Hulle lyk vir jou dalk minder dood as vir My, sê God, maar hulle is goed dood. Gaan, preek! Ek sal my Gees in hulle laat kom. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen, sê die Here. Hierdie is meer as net bekering, dis opstanding. Preke is hoe God dit doen.

Hoe klink die eerste gedruis van dié magtige dreuning? Soos die geprewel van ’n geloofsbelydenis. Maak geraas! Esegiël het dit gedroom. Met Jesus het dit regtig gebeur. Hy het opgestaan!

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS