Dagboek 2021 – 15 Julie
Lewe onder heerskappy van die Gees
Bybelteks(te)
GALASIËRS 5
Die Gees van God en ons sondige natuur
Galasië was in die Bybelse tyd een van die Romeinse provinsies. Paulus het tydens sy sendingreise verskeie gemeentes in die provinsie gestig. Hierdie gemeentes was geleë in en om die stede Ikonium, Listra en Derbe. Die brief aan die Galasiërs het gedien as ’n soort omsendskrywe wat aan al die gemeentes voorgehou is. Die gelowiges wat deel was van hierdie gemeentes, was van Joodse sowel as van heidense afkoms. Tradisioneel het die Jode en die heidene nie met mekaar gemeng nie. Die reinheidswette van die Jode het verbied dat hulle in aanraking sou kom met mense wat onrein is. Ten spyte daarvan het mense vanuit verskillende kulturele en godsdienstige agtergronde in een gemeente saamgekom. Dit het dikwels konflik veroorsaak en daartoe gelei, soos die apostel dit in vers 15 stel, dat die Christene in Galasië soos “vegtende honde” mekaar gebyt en verskeur het.
Die apostel Paulus probeer deur die brief wat hy aan die gemeentes in Galasië skryf, om die situasie te beredder en vrede te bewerkstellig. Hy doen dit deur drie opdragte te gee:
Jy is tot vryheid geroep. Moet net nie jou vryheid misbruik om sonde te doen nie… Jy moet jou naaste liefhê soos jouself… Jy moet jou lewe steeds deur die Gees van God laat beheers…
Gelowiges word deur die Gees van God bevry van die mag van sonde. Dit is die wedergeboorte. Daarom kan gelowiges ’n lewe van Christelike liefde leef. Daarom sê hy dat onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge geen plek in die lewe van ’n Christen het nie. Die werking van die Heilige Gees word sigbaar in mense se lewens wanneer hulle deur die krag van die Gees met liefde, vrede, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing teenoor ander mense optree.
Gebed
Here, ek bid dat U deur u Gees my lewe sal verander en nuut sal maak. Help my om in liefde teenoor ander op te tree. Amen.