Dagboek 2021 – 15 Junie
Is dit tyd, of is dit tyd, of is dit altwee?
Bybelteks(te)
HANDELINGE 2
Die uitstorting van die Heilige Gees
Daar is tyd en daar is tyd. Daar is tyd soos dié op ons horlosie en kalender, en dan is daar tyd soos in die tyd het aangebreek – ’n baie belangrike moment. Die uitstorting van die Heilige Gees val in die tweede kategorie. Dié tyd het nie slegs te doen met 50 dae na Paasfees nie, maar eerder met God se kragtige ingryping in die geskiedenis van die mensdom. Dit is nie asof die Heilige Gees tot in daardie stadium in die geskiedenis van die mensdom afwesig was nie. Ons weet die Gees van God was reeds van Genesis 1 af teenwoordig. Dalk het hierdie ingryping van God op so ’n indrukwekkende manier gebeur sodat die mens ’n bietjie kon stilstaan, dink, besef en dan gaan optree.
Ons glo dat God deur sy Gees op aarde aan die werk is. Wat hier gebeur, is dat daar baie mense uit baie lande rondom die Middellandse See in Jerusalem teenwoordig was. Die mense is daar om een van die drie groot feeste van die jaar, die oesfees, te vier om die Here te dank vir die oes wat ingesamel is. Met Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart is daar ook, sonder dat mense dit besef, ’n groot oes wat ingesamel gaan word: die oes van die volgelinge van God. Die uitstorting van die Heilige Gees is om vir die arbeiders te sê die oes is gereed, gaan na almal toe en samel God se oes in, en onthou, die Gees van God sal saam met julle wees.
Op daardie moment in die geskiedenis ontvang die dissipels en al Jesus se volgelinge die opdrag en toerusting om die “groot oes van God” te gaan insamel. Dit gaan gepaard met wondergebeure: Die dissipels praat met elkeen in hul moedertaal nadat hulle die Gees ontvang het. Hulle word met “vuur” gedoop en uitgestuur. Ja, daar sal altyd die ongelowiges wees, dié wat fout soek met alles en diegene wat eerder skinderstories aandra as om tot inkeer te kom.
Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein