Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 16 April

Wat ons weet

Bybelteks(te)

ROMEINE 3

19Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. 20Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is.

God verlos die mens

21Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25-26Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

ROMEINE 3:19-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons weet van God net wat nodig is om van te leef, en ons is nie van alles ewe seker nie. Eendag op ’n Sondag het God ons met ’n weerligstraal getref, en ’n paar weke later weer. Nee, ons het God nou nog nie “onder die knie” nie.

Maar pasop dat ons oor alles só onseker voel, dat niks ook meer seker is nie. Onbeantwoorde vrae ry ons bloots. Om te gló, is nog nie om te wéét nie, en dit stel baie soekendes teleur. Maar van geloof dryf jy darem ook nou nie ’n paar voet bo die grond met jou kop in miswolkies nie.

Geloof het te make met wat God in die wêreld kom doen. Tot nou toe, sê Paulus, was die wet wat God aan Moses gegee het, seker. Moses se wet sê mense is sondig, en wetsonderhouding werk nie. Toe God vir Jesus uit die dood opwek, is ons uit die veld geslaan, maar vryspraak is nou net so seker as wat die wet was.

Ons is nou nog morsig, die lewe ’n gemors. Ons werk hard daaraan om dit reg te maak. Maar ons gaan te ver: Ons vergeet dat God ons met Jesus aan die kant kom maak het, sonder dat ek of jy ’n vinger verroer het.

Jesus staan in ons op, sê baie deesdae. In ons, verander sy opstanding ons dan. Glo jy, is jy nie meer sondig nie, maar “nuwe Jesusse” wat die wêreld regtimmer. Dis ’n kort sprongetjie van daar af om te sê: Jesus het nie regtig uit die graf uitgekom nie. Die idee van Hom leef hier in ons. Dan rus die plig om die skepping te herstel weer vierkantig op ons skouers. Jesus en sy opstanding word opkikkers, mense word god! Dis die oudste sonde in die boek.

God vergewe nóú ons sonde. God oordeel nóú nog oor sonde. En God spreek jóú vry, want jy glo in Jesus wat regtig opgestaan het.

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS