Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 18 Mei

Liefde se ompad...

Bybelteks(te)

LUKAS 10

Die barmhartige Samaritaan

25Daar was 'n wetgeleerde wat aan Jesus 'n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

26Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”

27Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”

28“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”

29Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”

30Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe 'n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. 31Dit gebeur toe dat daar 'n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. 32Net so het daar ook 'n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. 33Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. 34Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na 'n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. 35Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’

36“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”

37Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”

Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

LUKAS 10:25-37AFR83Maak oop in die Bybelleser

Met vandag se GPS’e het ompaaie en alternatiewe roetes gekom om te bly. Sommige ompaaie kom onverwags sonder enige keuse – die ompad van siekte of ’n afdanking by die werk. Maar daar is ander tye wanneer jy ’n keuse het om van die normale pad af te gaan en wel die ompad te neem – ’n ompad wat iemand anders dalk net kan help. Is jy bereid om so ’n ompad te vat?

Die man, bekend as die barmhartige Samaritaan, het besluit om so ’n ompad te vat. Hy is ’n fiktiewe karakter wat Jesus in een van sy aangrypende gelykenisse as hoofkarakter bekendstel. Hy kruip nie agter verskonings weg nie, maar vat die ompad en help. Hy kies om van sy gewone roete af te wyk en die ompad van liefde en omgee te vat. Die ompad hou risiko’s vir hom in – hy stel homself in lewensgevaar. Maar hy gebruik nie die risiko as verskoning en regverdiging om verby te gaan nie. Die eerste vraag van die priester en die Leviet, wat kies vir ’n ompad van vermyding, was: As ek stop om hierdie man te help, wat sal met my gebeur? Maar die barmhartige Samaritaan vra die vraag andersom: As ek nie stop om te help nie, wat sal met hierdie man gebeur?

Die ompad vra om persoonlik betrokke te raak. Die Samaritaan het self wonde verbind, dalk ’n stuk van sy kleed afgeskeur as verbande. ’n Ompad vat en vra tyd. As dit kom by die geleentheid om iemand in nood te help, is die grootste hulp dalk net ons beskikbaarheid – jou tyd. ’n Ompad vra geld. Die Samaritaan het die slagoffer in ’n herberg ingeboek en daarvoor betaal.

Margaret Thatcher het by geleentheid gesê: Niemand sou die barmhartige Samaritaan onthou het as hy net goeie intensies gehad het nie. Hy het ook geld gegee. Mag jy met liefde die ompad vat om iemand in nood te help. Jy is dalk sy of haar enigste barmhartige Samaritaan.

Ds Jimmy Manders, Witfontein

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS