Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 19 Mei

Geloofs-geheueverlies

Bybelteks(te)

MARKUS 8

Die tweede vermeerdering van die brood

1In daardie selfde tyd was daar weer 'n keer 'n groot menigte mense by Jesus, en hulle het niks gehad om te eet nie. Hy roep toe sy dissipels nader en sê vir hulle: 2“Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. 3As Ek hulle nou sonder kos huis toe stuur, sal hulle langs die pad beswyk. Party van hulle kom van ver af.”

4Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar sal 'n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry?”

5Hy vra hulle toe: “Hoeveel brood het julle?”

“Sewe,” antwoord hulle.

6Toe gee Hy die mense bevel om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en God gedank het, het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee om uit te deel, en hulle het dit aan die mense voorgesit. 7Hulle het ook 'n paar vissies gehad; en nadat Hy die seën gevra het, het Hy gesê hulle moet dit ook uitdeel. 8Die mense het geëet en genoeg gekry. En hulle het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het. 9Daar was omtrent vier duisend mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur.

10Hy het toe dadelik saam met sy dissipels in die skuit geklim en na die gebied Dalmanuta toe gegaan.

MARKUS 8:1-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer jy geheueverlies opdoen, is jy soekend na die waarheid; soekend na wie jy nou eintlik is. Al kan ons almal nou mooi onthou, ly ons dikwels aan ’n eienaardige soort geloofs-geheueverlies. Dit gebeur wanneer ek soveel getuienis en bewyse het dat die Here ongelooflik goed is vir my, en tog in ’n oogwink vergeet wat Hy alles vir my gedoen het.

Vrees kom steel my geloof. Israel het geloofs-geheueverlies gehad, want God se volk moes kort-kort herinner word aan alles wat God reeds vir hulle gedoen het. Jesus se eie dissipels ly kort-kort aan geloofs-geheueverlies, ten spyte daarvan dat hulle Jesus in aksie sien. Ek en jy ly kort-kort hieraan: Dit is waarom ons gereeld Bybel lees, na oordenkings en preke luister – op soek na die Here om juis ontslae te raak van ons geloofs-geheueverlies, om juis weer herinner te word aan wat God al vir ons gedoen het, en ook vir ons wil doen.

Nadat Jesus vir meer as 5 000 mense kos gegee het, het die geleentheid van 4 000 honger mense hom voorgedoen. Ons sien dat Jesus se hart weer eens uitgaan na die mense. Maar sy dissipels reageer: Waar sal n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry? Hoe kon hulle dit vra? Dit was ’n kort tydjie gelede; kan hulle nie onthou nie? Presies dieselfde situasie, net ’n ander plek. Na al die dinge wat hulle self saam met Jesus gesien en ervaar het, tree hulle op asof Jesus nog nooit in sy ganse lewe ’n wonderwerk gedoen het nie! Geloofs-geheueverlies: Kan hulle nie die vyf brode, twee vissies, 5 000 mense en 12 mandjies oorskiet onthou nie?

Ons is net so. Ons ervaar God se aanraking en wonderwerke in moeilike situasies, en dan slaan geloofs-geheueverlies toe. Ons huidige situasie is so oorweldigend dat ons vergeet hoe God vir ons in die verlede deurgekom het. Mag ons in vertroue vashou aan die Here en in die geloof weet dat God altyd getrou en teenwoordig is, met die vaste vertroue: Hy sal voorsien, soos Hy nog altyd het!

Ds Jimmy Manders, Witfontein

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS