Dagboek 2021 – 2 Julie
God se Gees laat ons getuig in die wêreld
Bybelteks(te)
DANIËL 5
Soms voel ‘n mens net lus om jouself te onttrek aan ‘n situasie. Jy voel jy het genoeg gehad van al die korrupsie en onregverdigheid of jy kan nie meer die pyn wat mense jou aandoen hanteer nie. Die verhale van Daniël is bedoel om God se kinders te bemoedig te midde van ‘n korrupte en ontaarde samelewing. Daniël en sy vriende dien as voorbeelde van die verskil wat God se kinders kan maak tussen mense wat eintlik soekend en bang is.
Die verhaal in Daniël 5 wil eerstens vir ons skets hoe verwaand en hoogmoedig mense van nature is. Belsasar hou partytjie die terwyl die vyand by die stadspoort is en hy gebruik selfs die heilige voorwerpe uit die tempel van God. Maar God is ‘n genadige God wat ‘n manier vind om selfs met mense te praat wat in opstand teen Hom is – deur ‘n hand wat ‘n boodskap teen ‘n muur skryf. Belsasar se reaksie van vrees is tekenend van die mensdom se soeke na en nietigheid voor God.
Daniël se optrede aan die ander kant, verteenwoordig ons verantwoordelikheid as kinders van die Here in die tyd waarin ons leef. Kinders van die Here het niks om voor bang te wees nie. Ons het die voorreg om God se Woord aan die wêreld bekend te maak. Dit is ‘n boodskap van hoop en bevryding. Soos wat Daniël bekend was onder die mense van sy tyd vir sy standvastige geloof, kan ons ook getuig van God se liefde en genade deur die manier waarop ons lewe. God het met ons gepraat deur Jesus Christus. Hy het ons kom leer om ons nie te onttrek aan ons omstandighede nie maar om te midde van lyding, die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld te wees. Ons troos is dat ons hoop nie in die mag van mense gesetel is nie maar in die almagtige God.
Dr Gerhard Lindeque
Bybelgenootskap van Sud-Afrika