Dagboek 2021 – 2 Mei
As God vir ons wegkruip
Bybelteks(te)
PSALMS 44
Kom ons tog te hulp
Verlede Sondag in die kerklike jaar was biddag vir die gesaaides en dankdag vir die oes. ’n Biddag vir die wintergewasse wat geplant word en ’n dankdag vir die somergewasse wat geoes word. Dit is ’n belangrike dag, want dit nooi ons uit om te reflekteer oor die voorsienigheid van God.
In Psalm 44 ontmoet ons iemand wat verslae staan, want dit lyk of God hom finaal in die steek gelaat het. Hy is verslae, want hy ken die geskiedenis van die volk en hoe God in die verlede vir Israel gehelp en voorsien het (verse 2-4). Verder weet hy ook dat die volk nie van die Here afgedwaal het nie (verse 18-22). Enige persoon wat al ooit die waagspel gespeel het deur ’n saadjie in die grond te druk, weet: Soms bly die reën weg of die ryp kom te vroeg. Daar is nie verduidelikings nie, dis maar net deel van boer. Maar hoe maak ons sin van hierdie gebeure? Hoe maak ons as dit lyk of God sy gesig vir ons wegdraai?
Ons maak soos die Psalmdigter. Ons roep tot die Here! Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! (vers 24). Dit klink vir ons amper Godslasterlik om so direk met God te praat. Maar dit is een van die kenmerke van die Klaagpsalms. Dit draai nie doekies om nie. Dit weergalm met dieselfde angs waarmee Christus geroep het aan die kruis: My God, my God, waarom het U My verlaat?
Ons hoef nie ons woede en wanhoop vir die Here weg te steek nie. Die stompheid van die Psalmdigter is nie bedoel as ’n belediging nie, maar juis as ’n teken van die intimiteit van die verhouding tussen hom en God. Daarom hoef ons nie bang te wees dat ons rou emosies God gaan verdryf nie. Ten spyte van die Psalmdigter se protes, is hy nie van plan om sy geloof op te sê nie. As dit voel of God sy gesig van jou wegdraai, bring dan juis jou klaagliedere na die Here as ’n geloofsbelydenis.
Ds Willem Dreyer, Delareyville