Dagboek 2021 – 2 Oktober
Die nuwe glans
Bybelteks(te)
2 KORINTIËRS 3
Wanneer God kontak maak met mense, gebeur die onbegryplike. So was dit met die ontmoeting met Moses op die berg toe hy die wet ontvang het. Toe hy teruggekom het by die volk, het sy gesig geskitter met ’n verblindende glans, wat die teken was dat hy die heerlikheid van God weerspieël het, dat hy kontak met ‘n ander wêreld gehad het. Hy het sy gesig met ’n sluier bedek (Eks 34:33). Die sluier het verhinder dat die volk die heerlikheid van God direk kon sien. Volgens Paulus het dit ook ten doel gehad om weg te steek dat die glans met verloop van tyd minder geword en naderhand verdwyn het. Daardie bedekking was dus die aanduiding dat die verbond met Moses tydelik was, voorlopig, ’n belofte van die ware, finale ontmoeting met God wat later sou kom.
Met die nuwe verbond wanneer daar deur die Gees van God op die harte van mense geskryf word, is dit anders: Daar bestaan nie meer ’n sluier nie. Die glans van God se heerlikheid hoef nie meer verbloem te word nie; dit is daar vir almal om te sien en dit verdwyn nie. Immers waar die goeie nuus van vryspraak in mense se harte tuisgekom het, kom verstommende verandering en word die heerlikheid van die Here weerspieël. Gewone mense word al meer aan die beeld van Christus gelyk.
Is daar dalk nog by jou ’n sluier wat behels dat jy die Bybel lees en nie die glans van God se goedheid so raaksien dat dit jou bly verander nie? Is daar dalk ’n sluier wat veroorsaak dat jy nie die heerlikheid van God in jou lewe weerspieël nie? Kan van jou gesê word dat jy die beeld van Christus vertoon, deurdat jy sy geduld, sy vermoë om te vergewe en nie te veroordeel nie, wys? Jy is ook deel van die nuwe verbond waarvan die glans nie verdwyn nie en wat van jou ook ’n brief van Christus maak wat leesbaar is vir almal om jou.
Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus