Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 20 September

Gebede beantwoord

Bybelteks(te)

HANDELINGE 5

Baie tekens en wonders

12Deur die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. En al die gelowiges het gereeld saamgekom in die Pilaargang van Salomo, 13maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag. 14Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg. 15Die mense het selfs siekes op straat uitgedra en hulle daar op draagbare en beddens neergesit sodat, as Petrus daar verbygaan, al is dit maar net sy skaduwee op party van hulle kon val. 16Daar het ook baie mense van die dorpe in die omgewing van Jerusalem af gekom en siekes gebring en mense wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak.

HANDELINGE 5:12-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vir ’n derde maal kry ons ’n nuusflits oor die wel en wee van die gelowiges in die gemeente van Jerusalem. Ons hoor van gebede wat beantwoord is. Die tekens en wonders wat plaasvind, is die verhoring van Petrus en Johannes se gebed: Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus (Hand 4:30). Dit gebeur aan die hand van die apostels.

Die gelowiges het by die tempel bymekaargekom en voortgegaan met hul aanbidding. Buite die tempelgronde het baie mense tot geloof gekom en begin inskakel by die huiskerke. Petrus het bekend geword. Die krag wat hy uitgestraal het, het wonders laat gebeur. Dit is vanweë sy intieme kontak met God. Van heinde en ver het mense gekom, en dit was vir baie genoeg dat net Petrus se skadu op hulle val. Daar is met groot lof van die gelowiges gepraat. God het mense bygevoeg tot die gemeente.

Wat doen ons wanneer ons gebede verhoor word? Wat maak ons met diegene wat tot die gemeente bygevoeg word?

Herskep, o Gees, laat leef, o Gees, laat kom die koninkryk met mag,
laat mense tot bekering kom, oorreed deur u oortuigingskrag.
O, Gees, verlig ons, laat ons vind die waarheid wat u Woord ons leer –
dat ons met God en met mekaar in Gees en liefde kan verkeer.
Herskep, o Gees, laat ons herleef, maak wakker elkeen in u kerk.
Laat ons uit God se liefde leef, en dankbaar waak en bid en werk.
(Gesang 436: 1-3)

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS