Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 21 Mei

Ligpunte in die duister

Bybelteks(te)

JOHANNES 16

Ek het die wêreld oorwin

25“Dit het Ek deur beeldspraak vir julle gesê. Daar kom 'n tyd wanneer Ek nie meer deur beeldspraak met julle sal praat nie maar julle reguit van die Vader sal vertel. 26Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie, 27want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. 28Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe.”

29Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U reguit en gebruik nie beeldspraak nie. 30Nou weet ons dat U alles weet, en niemand hoef U verder uit te vra nie. Ons glo nou dat U van God gekom het.”

31Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle nou? 32Kyk, daar kom 'n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. 33Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

JOHANNES 16:25-33AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wat is jou nommer een vraag vir God? Miskien, soos vir baie ander mense oor eeue heen: Waarom is daar lyding in ons wêreld? Jesus was doodeerlik. Hierdie onvermydelike en gevreesde goed gaan gebeur: In die wêreld sal julle dit moeilik hê (vers 33). Hier is nie sprake van miskien nie…

Aan hierdie kant van die hemel het ons vir seker nie die antwoorde op al die hoekoms en waaroms nie. As ons dit gehad het, was ons self God. Selfs al kan ons nie alles verstaan voor die dowwe spieël van die lewe nie, kan ons tog hier en daar die buitelyne uitmaak. Hier en daar breek ’n ligpuntjie deur in die duisternis.

Het jy al met jou motor in digte mis beland op ’n bergpas wat skerp draaie het? Jy kan nie vyf tree voor jou sien nie. Skielik verskyn ’n vragmotor hier voor jou. Al wat jy sien, is die twee dowwe agterliggies. Jy besef die bestuurder het goeie misligte, want hy ry teen ’n konstante selfversekerde spoed ,en jy weet jy kan hierdie liggies in die duisternis volg, want hulle is op pad in die regte rigting.

Dalk is dieselfde waar as ons probeer verstaan waarom daar lyding in ons wêreld is. Ons kan dalk nie in die duisternis van die tragedie al die antwoorde op die hoekoms uitryg nie. Ons visie is beperk. Maar ons kan Jesus se beloftes as ligpunte volg en ons kan vertrou dat dit ons in die regte rigting sal lei, na uitkoms.

Jesus se uitkoms is die volgende: Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin. Jesus bied aan ons presies wat ons nodig het: vrede in Hom om ons hede te kan hanteer, en moed om ons toekoms te kan hanteer. Hoe? Hy het die wêreld klaar oorwin! Deur sy eie lyding en dood het Jesus hierdie wêreld verslaan en gestroop van sy krag oor jou. Ons het reeds saam met Hom oorwin!

Ds Jimmy Manders, Witfontein

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS