Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 21 September

Moet jou nie bekommer nie

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

Die sorge van die lewe

25“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 30As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

31“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

34“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

MATTEUS 6:25-34AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit gebeur dat bekommernis stadig in ’n mens se gedagtes insluip en die besorgdheid al dieper en dieper aan jou begin knaag. Bekommernis wek nie vreugde nie, maar kommer in die mens se hart. Miskien is daar ’n bekommernis wat aan jou knaag en jou stadig maar seker laat bewe sodat jy nie weet waarheen nie. Nou lees ons dat die Here Jesus in Matteus 6 sê dat jy oor niks besorg moet wees nie.

Wanneer die Here Jesus sê dat ’n mens eers die koninkryk van God moet soek en jou vir sy wil moet beywer, gaan Hy van die standpunt uit dat die volheid van die lewe ’n vertrouensverhouding met God moet wees. Dit is waarmee ons as gelowiges besig moet wees. Dit is belangriker om sinvol en betekenisvol in ’n verhouding met God te lewe as om jou te bekommer oor die inspanning om elke dag te oorleef.

Ons dink dalk ons kan deur ons eie inspanning en vermoëns vir onsself sorg, maar daar is te veel veranderlikes waaroor ons geen beheer het nie. Ons hemelse Vader weet wat ons alles nodig het. Net soos Hy sorg vir die wilde voëls en die veldlelies, sorg Hy vir ons. Daarom moet ons gefokus lewe, want om vandag oor môre bekommerd te wees, is nutteloos en onproduktief – elke dag het genoeg van sy eie moeilikheid.

Dit is egter wys om vir die dag van môre te beplan, maar nadat ’n mens in geloof beplan het, moet ons nie verder oor môre bekommerd wees nie, maar vertrou op ons hemelse Vader wat ons in alles versorg. Hy gee ons die krag en genade om die moeilikheid en inspanning van elke dag te hanteer, want Hy is in beheer en ons kan Hom vertrou, en nie toelaat dat die sorge van die lewe ons lewe oorneem nie. Watter wonderlike troos om te weet God sorg vir ons en Hy weet wat ons nodig het. Moet daarom nie toelaat dat die wêreld jou oë hiervoor verblind nie.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS