Dagboek 2021 – 22 April
Die Here is naby
Bybelteks(te)
FILIPPENSE 4
Die Sweede filosoof Sören Kierkegaard het gesê elke mens het twee metgeselle wat jou hele lewe lank saam met jou is. Die een se naam is angs en die ander se naam is sorge. En hierdie twee kan jou nie net letterlik siek maak nie, hulle beroof jou ook van jou lewensvreugde en lewenskwaliteit, en in die ergste gevalle steel hulle jou geloof en vertroue in God. Dit is waarom Filippense 4: 4-7 vir gelowiges so belangrik is. Lees die paar verse weer rustig deur.
Is so ’n lewe regtig moontlik, ’n lewe sonder angs en sorge? Baie sê nee! Maar dan, as ’n lewe vol blydskap en sonder sorge nie moontlik is nie, is hierdie woorde in Filippense niks meer nie as ’n leuen. Maar, aan die ander kant weer, as so ’n lewe wel moontlik is, moet ons vra: Hoe? Die beste is om te gaan kers opsteek by die een wat hierdie raad vir gelowiges gegee het. As daar een mens was uit wie se ondervinding ons kan leer, is dit Paulus. Lees maar net in 2 Korintiërs 11: 23-28, wat ons vandag sy CV kan noem. Dis duidelik dat hy aan eie lyf ervaar het wat alles in hierdie lewe vir ’n mens kan skeefloop. En juis hy van alle mense sê, wees altyd bly, moet oor niks besorg wees nie. Hoe is dit moontlik as ’n mens daaraan dink dat hy, terwyl hy dit skryf, in ’n koue, stink, Romeinse tronk sit? Die geheim lê in vier woorde: Die Here is naby. Die sleutel tot ’n vreugdevolle kommerloosheid en ook tot vredevolle rustigheid lê in die nabyheid van die Een wat gekom het en elke dag kom en uiteindelik weer sal kom.
Dis tog wat ons glo. Die Here is naby. Hy is naby my, naby my kinders, naby elkeen wat Hom ken. En wie dit glo, kan sonder angs en sonder sorge leef en rustig wees.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus