Dagboek 2021 – 22 Julie
Die Heilige Gees voed
Bybelteks(te)
2 KONINGS 4
Kos vir honderd mense
Party leef om te eet en ander eet om te leef. Maar almal moet eet om aan die lewe te bly. In die Bybelse tyd was kos skaars, veral in tye van hongersnood. Dit is voorwaar ’n wonderwerk as ’n mens nie net iets het om te eet nie, maar genoeg het om te eet en dat daar nog oorbly. Israel het oorvloed kos as seën en weldaad uit die hand van God ervaar (vergelyk Ps 78: 29). Elisa, die man van God, doen hier ’n wonderwerk om ’n groot getal mense (100 mans, waarskynlik profete) met net 20 brode te voed. Almal eet genoeg en daar bly nog kos oor. Dit herinner aan die verhale van Jesus wat brood vermeerder. Is Elisa ’n towenaar of is dit oëverblindery? Of is Elisa, die man van God, so deur die Gees van God gelei om seker te maak mense wat honger het, se nood word verlig? God doen die wonder, en gebruik Elisa om die wonder uit te voer sodat mense die grootheid van God kan sien.
In ons dae van oorvloed, verskeidenheid en massaverbruik, kla ons min dat ons honger is vir aardse brood. Maar ’n mens leef mos nie net van aardse brood nie. Saam met die afsluk van aardse brood, neem ons ook die woorde oor en uit God se Woord in. Soos wat die Nagmaalformulier ons leer, moet ons nie net fokus op die sigbare tekens wat voor ons mag wees nie (in die geval van Nagmaal brood en wyn), maar moet ons ons gedagtes rig op dit waarop die tekens vir ons dui. Elke maaltyd, elke stukkie brood wat ons eet, behoort ons te herinner aan die versorging wat ons uit die hand van God daagliks, elke maaltyd, ervaar.
Die beskikbaarheid van kos herinner ons aan God se versorging. Om kos te eet, is ’n geloofsbelydenis dat God sien en sorg. Om brood te eet, is soos om die Gees in te neem. Mag elke happie kos jou herinner aan God wat deur sy Gees in ons woon en werk.
Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos