Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 22 Mei

Is jou geloofsbyl skerp?

Bybelteks(te)

PREDIKER 10

10As die byl stomp word en nie geslyp word nie,

moet jy meer krag gebruik.

Dit betaal om jou verstand te gebruik.

PREDIKER 10:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer ’n mens kragteloos en afgemat voel, is dit dalk nie ’n slegte idee nie om te kyk of jou “geloofsbyl” nog skerp is. Salomo gee vir ons wyse raad: As die byl stomp word en nie geslyp word nie, moet jy meer krag gebruik. Dit betaal om jou verstand te gebruik.

Salomo se metafoor laat ’n mens dink aan die verhaal van die jongman wat by ’n houtfabriek aansoek doen vir werk. Die voorman wou dadelik by hom weet of hy manalleen ’n boom met ’n byl kan afkap. Die jongman het na ’n boom in die plantasie geloop en dit soos ’n professionele houtkapper afgekap. Die voorman het hom dadelik aangestel. Maandag het die jongman almal in die span ore aangesit. Hy het sommer ver voorgeloop met die meeste afgekapte bome. Maar elke dag daarna het hy stadiger en stadiger gewerk. Vrydag kon hy nie eens een boom afkap nie. Hy het deur al die bewegings gegaan. Hy het die byl geswaai en die boom net so hard getref soos gister, maar dit het nie dieselfde gewerk nie.

Einde ten laaste het die jongman die byl eenkant gegooi, op die grond gaan sit in totale moegheid en gewonder: Hoekom word ek so moeg? Die voorman het nadergestap en gesê: Jy was die hele week so besig om te doen wat ’n houtkapper doen, dat jy vergeet het om terug te keer na die basiese ding, naamlik om jou byl gereeld skerp te maak. Jou byl het stomp geword en beteken vandag so te sê niks.

Is jy so besig in jou lewe, té besig, dat jy ook vergeet om terug te gaan na die heel basiese, om eenvoudig met God te praat? Hoe gereeld bid jy nog? Het jy nie ook dalk geleer hoe om die werk goed te doen, maar vergeet hoe om self eers krag te put by die Here nie? Is jou geloofsbyl skerpgemaak, of karring jy kragteloos aan sonder enige effektiwiteit? Mag die ritme van bid en werk ook deel word van jou lewe.

Ds Jimmy Manders, Witfontein

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS