Dagboek 2021 – 23 Augustus
Moenie die venster mis nie
Bybelteks(te)
LUKAS 16
Die ryk man en Lasarus
Jesus was vertroud met die verhale van die sinagoges en die rabbi’s van daardie tyd. As jong kind het Hy geluister hoe hulle gepraat het. Een van die rabbi’s se gunstelinge was die verhaal van Eliëser van Damaskus. Eliëser van Damaskus was ’n redelik onbekende figuur wat net een keer in die Ou Testament genoem word, as Abraham se neef en regterhand, sy dienskneg.
Die tradisie lui dat die Here vir Abraham gesê het om sy dienskneg Eliëser van Damaskus te stuur om die aarde te seën. Eliëser het gekom, maar was altyd vermom. Niemand het geweet wie hy was nie. Dalk die skaapwagter of die slaaf, of die blinde of dowe man of arm man. Jy moes jou oë oop gehou het as jy dalk vir Eliëser van Damaskus wou raaksien.
As jy Eliëser in Grieks vertaal, in die Nuwe Testament se taal, dan beteken dit Lasarus. Die seën van God in die vorm van ’n bedelaar reg voor die deur van die ryk man. Die ryk man het Lasarus meer nodig gehad as wat Lasarus die ryk man nodig gehad het. Maar hy dit nie besef nie.
’n Goeie vriendin vertel my van haar kind in haar tienerjare. Hulle het saam op die bank gesit en TV gekyk. In die middel van die program het haar dogter ’n parmantige opmerking gemaak. Ma het geantwoord, en spoedig het harde woorde heen en weer gevlieg, totdat die dogter opgevlieg het kamer toe en die deur agter haar toegeslaan het. Ma se reaksie: Bly daar tot jy maniere geleer het. Maar toe het dit haar gepla en ’n stemmetjie het gesê sy moet gaan regmaak. Sy het haar wasgoed en trots neergesit en gaan vrede maak.
So moet ons nie die kans misloop om Lasarus raak te sien, en reg op te tree nie. As dit eers verby is, is dit verby.
Dr Hein Delport, Swartkop