Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 24 Julie

Die Heilige Gees tugtig

Bybelteks(te)

2 KONINGS 2

Die seuntjies spot vir Elisa

23Elisa is daarvandaan op na Bet-El toe. Terwyl hy op pad was daarnatoe, het 'n klomp klein seuntjies uit die stad gekom en hom gespot: “Hoër op, kaalkop! Hoër op, kaalkop!”

24Hy het omgedraai, hulle aangekyk en hulle vervloek in die Naam van die Here. Twee bere het uit die bos gekom en twee en veertig van die kinders verskeur.

25Van Bet-El af is Elisa na Karmelberg toe en daarvandaan na Samaria toe.

2 KONINGS 2:23-25AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die sondes van die vadere word op die kinders gewreek. Daarom, wees versigtig, liewe ma en liewe pa, watter voorbeeld julle vir jul kinders stel. Hul lewens hang daarvan af.

Die verhaal van bere wat in opdrag van Elisa, die man van God, die kinders van die dorp Bet-El verskeur, is ’n verleentheid vir gelowiges. Is God dan nie liefdevol en genadig nie, en gee Hy nie altyd net die goeie vir mense nie? Die verhale van 2 Konings vertel hoe God deur sy profeet weldade aan mense betoon, maar nou skielik van ’n wrede God wat bere opdrag gee om onskuldige kinders te verskeur.

Die inwoners van Bet-El in die tyd van Elisa het lankal vergeet dat Jakob lank gelede ’n ontmoeting met God op hierdie plek gehad het. Jakob het na ’n droom ’n altaar ter ere van God hier opgerig en die plek die huis van God genoem (Gen 28: 16-19). ’n Plek waar God voorwaar aanbid kon word. Maar lank na Jakob het die inwoners van Bet-El die geskiedenis van hul dorp vergeet, tot so ’n mate dat afgodery die aanbidding van God vervang het. Die inwoners het hul kinders nie meer van God se kragtige teenwoordigheid in hul midde geleer nie. Die gevolg is dat die kinders nie ’n profeet, ’n man van God, herken wanneer hy op ’n dag met die pad by hul dorp langs kom nie. Die kinders van Bet-El spot met Elisa, omdat niemand hulle respek vir God en die man van God geleer het nie.

Die ouers se nalatigheid om hul kinders van God te leer, eindig in tragedie. Elisa, deur die Gees van God vervul, gee aan wilde diere opdrag om die kinders te verskeur. Dit is die straf vir onkunde oor God. Dit sal dien as waarskuwing om nie van God te vergeet nie. ’n Hele geslag inwoners van Bet-El is uitgeroei. Vir die inwoners van Bet-El was die grafstene van hul kinders ’n nuwe monument: ’n teken om hulle aan God te herinner.

Gebed

Here, lei ons deur u Gees om ons kinders altyd van U te leer. Amen.

Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS