Dagboek 2021 – 24 November
Hy kom weer! Glo jy dit?
Bybelteks(te)
JOHANNES 14
Jesus gaan na sy Vader toe
Jesus begin hierdie gesprek oor sy weggaan met dié woorde: Julle moet nie ontsteld wees nie. Dit was eintlik die emosie wat die dissipels elke keer ervaar het wanneer Jesus oor sy weggaan gepraat het. Dit is een van die emosies wat ons ervaar wanneer ons weet ons gaan iets verloor. Sy volgende woorde is woorde wat hulle dadelik gerus moet stel. Trooswoorde: Ek kom terug om julle te kom haal! Sy weggaan is net tydelik. Vir ’n kort rukkie sal hulle hierdie seer en verlies ervaar, maar daarna sal hulle saam met Hom wees in sy Vader se huis waar daar woonplek is vir baie. Hy gaan om die plek gereed te maak.
Hierdie besef van dit wat in die toekoms gaan gebeur, kan emosies ligter maak. Die verwagting van Christus se wederkoms moes hul ontsteltenis en gevoel van verlies verlig. Die toekoms gaan soveel beter wees. ’n Toekoms waar die teenwoordigheid van God baie meer direk ervaar sal word. Jesus sê dat Hy hierdie pad na God toe moontlik maak. Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Deur sy kruisiging het Hy dit vir ons ’n moontlikheid gemaak.
Vir sy dissipels was hierdie tussentyd ondenkbaar. Daarom bied Hy die versekering van sy wederkoms. Asof Hy wou sê: Hou daaraan vas, dan sal hierdie tussentyd met alles wat kan gebeur, leefbaar wees.
Hul verdere vrae is vrae waardeur hulle probeer om vastigheid en sin te kry. Wanneer die mat onder ons uitgeruk word, soek ons iets om aan vas te gryp. Jesus se antwoord gaan oor wie Hy is en sy verhouding met sy Vader. Dalk sal dit vir ons genoeg wees om hierdie perspektief te behou wanneer ons deur moeilike tye gaan. Hierdie ervaringe is deel van ’n tussentyd. Christus het ons verhouding met God herstel. Leef in hierdie verhouding. Onthou dat Christus se weggaan beteken dat Hy vir jou plek gereed gaan maak. En sy belofte is dat Hy weer gaan kom om jou na Hom te neem.
Glo jy dit?
Ds Manda le Roux, Weskus