Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 25 April

Waaroor dit eintlik gaan

Bybelteks(te)

MATTEUS 13

Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg

31Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

33Hy het hulle nog 'n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat 'n vrou gevat en in 'n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

Die gebruik van gelykenisse

34Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder 'n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. 35So moes vervul word wat die Here deur 'n profeet gesê het:

“Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat;

Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af.”

MATTEUS 13:31-35AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 13

Drie kort gelykenisse

44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy 'n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

47“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met 'n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. 48As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. 49So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies 50en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

Ou en nuwe skatte

51“Verstaan julle al hierdie dinge?”

“Ja,” antwoord hulle Hom.

52Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat 'n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos 'n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”

MATTEUS 13:44-52AFR83Maak oop in die Bybelleser

Matteus 13 word in sekere kringe gesien as die klimaks van die Matteus-evangelie. Matteus begin met Jesus se geboorte en eindig met sy hemelvaart. Maar Matteus wou in sy Evangelie-vertelling nie net berig dat Jesus gekom, gesien en gegaan het nie. Matteus wou eintlik vertel wat Jesus kom doen het. Hy berig dat Jesus met bepaalde mense simpatie gehad het en ander veroordeel het. Vir Matteus was dit duidelik dat Jesus ’n “tweede Moses” is wat ’n nuwe begin kom maak met God se mense en dat Hy ’n nuwe wet op die Olyfberg aankondig. Jesus wil ’n nuwe wêreld met nuwe mense en ’n nuwe wet sien.

Maar, en dit moet ons mooi verstaan, dit gaan nie bloot oor ’n nuwe skema van sosiale en politiese verandering nie. Uiteraard sal Jesus ook daardie terreine ten diepste beïnvloed. Dit gaan veral oor die gesindheid van mense. In Matteus 13 leer Matteus ons wat die geheim is agter dit wat Jesus wil bewerk. Dit gaan om die koninkryk van God. Tussen die harde pad en die rotse en die goeie grond word daar gesaai, en tussen die onkruid groei daar ’n wonderwerk. Tussen die onkruid is die koninkryk van God besig om gestalte te kry. Dit is nou ons taak om ons in te span om hierdie wonderwerk te soek totdat ons dit kry. Dit vra inspanning, want dit gaan om ’n lewensbelangrike saak, naamlik God se koninkryk. Dit gaan om God se wêreld en God se mense en God se wet.

Dit is belangrik om te verstaan dat die evangelie nie net daar is om ons in die hemel te kry nie. Die evangelie gaan veral daarom dat God se koninkryk sigbaar gemaak sal word, terwyl ons op hierdie aarde lewe.

Dit laat ’n mens onvermydelik vra: Doen ek wat nodig is om van die wêreld ’n plek te maak waar die koninkryk van God sigbaar word tot heil van mense en tot verheerliking van God ons Vader in Jesus Christus?

Dr Christo van der Merwe, Emeritus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS