Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 25 Mei

God kom na ons deur profete

Bybelteks(te)

HEBREËRS 1

Die uitnemende grootheid van die Seun van God

1In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

HEBREËRS 1:1-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

God kom na Jesaja met ’n openbaring aangaande Juda en Jerusalem (Jes 1:1). God se woord kom tot Jeremia tydens die regering van koning Josia. Hy sê vir Jeremia: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken… jou aan My gewy (Jer 1:5). God se woord kom na die priester Esegiël, by die Kebarrivier in Galdeërland, met boodskappe vir sy volk (Eseg 1).

God kom na Daniël deur die woorde van die engel Gabriël (Dan 9:23): Toe jy die Here gesmeek het om hulp, het jy ’n antwoord gekry: Die antwoord is: God het jou lief! God kom na die profeet Hosea met die woorde: Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad (Hos 11:1). God kom na Joël, die seun van Petuel en sê: Luister na die woorde van die Here, inwoners van die land (Joël 1:2).

God kom na Amos toe: Luister na die woord wat die Here teen julle rig, Israeliete, teen al die stamme wat Hy uit Egipte laat trek het: Ek het net vir julle uitgekies uit al die volke van die aarde (Am 3: 1-2). God kom na die profeet Obadja met ’n boodskap van oordeel oor Edom. God se woord het tot Jona, seun van Amittai, gekom (Jona 1:1).

God se woord het gekom het tot Miga van Moreset tydens die regering van die Judese konings Jotam, Agas en Hiskia (Miga 1: 1). God het met sy woord gekom na Sefanja, seun van Kusi; dit het gebeur in die regeringstyd van koning Josia van Juda (Sef 1:1). God se woord het deur die profeet Haggai gekom tot Serubbabel, goewerneur van Juda, en tot die hoëpriester Jesua (Hag 1:1). In die agtste maand van die tweede regeringsjaar van Darius het God se woord gekom tot die profeet Sagaria, seun van Berekja, seun van Iddo (Sag 1:1). God kom na Maleagi met ’n boodskap aan Israel (Mal 1:1).

Oor en oor lees ons die getuienis in die ou Testament, deur die groot profete en die klein profete: Immanuel! God kom na mense toe, al bly ons sondig. Hy gee nie op nie!

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS