Dagboek 2021 – 26 Julie
Die Heilige Gees maak gesond
Bybelteks(te)
2 KONINGS 5
Naäman word genees van melaatsheid
Niks herinner ons aan ons eie tydelikheid en verganklikheid soos siekte nie. Siekte diskrimineer nie: Almal word siek – ryk en arm, manlik en vroulik, slaaf en baas. Siekte laat hom nie omkoop of paai nie. Wie siek word, staar die dood in die oë. Soveel te meer was die dood ’n realiteit vir die mens wat in die Bybelse tyd siek geword het. Veral as ’n mens boonop melaatsheid opgedoen het.
Naäman, die sterk en beroemde generaal van Aram, word siek. Hyself en ander wou nog glo dit is net ’n velsiekte, maar sommige het gefluister dat dit melaatsheid was. Indien dit melaatsheid was, sou hy onder kwarantyn geplaas moes word en geen kontak met enigiemand mag hê nie. Boonop sou die mense wonder watter afskuwelike sonde hy gedoen het om so met onreinheid gestraf te word. Melaatsheid is so goed soos ’n doodsvonnis wat oor ’n lang periode voltrek word: Doodgaan is verseker, maar die pad daarheen is lank.
Daar is egter ’n straaltjie hoop. Naäman hoor van die man van God wat wonderwerke verrig. Elisa, die profeet, kan hom dalk genees. In plaas van die helende aanraking van die hande van Elisa, stuur Elisa ’n mondelinge preskripsie dat Naäman hom in die Jordaanrivier moet gaan was. Die hardkoppige Naäman verwag beter behandeling en medikasie as net ’n leë belofte. Maar wanneer hy hom gaan was, word hy gesond (vers 14)! ’n Wonderwerk gebeur.
Was dit die toedoen van Elisa wat nie eens medisyne toegedien het nie? Was dit die towerwater van die Jordaan? Of was dit omdat die man van God gesê het dit sal so gebeur?
God bring genesing op onverklaarbare maniere. In die afwesigheid van enige fisiese tekens waaraan genesingskrag gekoppel kan word, kom genesing onverklaarbaar. Dit kan net die werking van die Gees van God wees.
Gebed
Here, genees ons geestelike oë dat ons u genesende wonders kan sien. Amen.
Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos