Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 26 Mei

God kom na ons deur mens te word

Bybelteks(te)

MATTEUS 1

Die geboorte van Jesus Christus

18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.

Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:

23“Die maagd sal swanger word

en 'n Seun in die wêreld bring,

en hulle sal Hom Immanuel noem.”

Die naam beteken God by ons.

MATTEUS 1:18-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 7

13Toe sê Jesaja:

“Luister, geslag van Dawid!

Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei? 14Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem. 15Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is. 16Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.

JESAJA 7:13-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die maagd sal swanger word en aan ’n Seun geboorte gee, en hulle sal Hom Immanuel noem, wat beteken: God is met ons.

Ons lees hierdie verhaal in die Evangelies, maar ons kan dit nie maklik verstaan nie: God, wat ewig en oral is, kom woon in die liggaam van ’n mens wat maar vir rondom 30 jaar lank op die aarde geleef het, en wat net op een plek op ’n keer kon wees. Maar hierdie onverstaanbare wonder is waaroor die Woord van die Here gaan: Die Woord vertel dat God self ’n mens geword het en by ons op die aarde kom woon het in ’n liggaam. ’n Liggaam wat soos ons liggame moeg geword het, koud gekry het, seergekry het, aan versoeking onderworpe was en die aardse dood tegemoet moes gaan. Hy het dit gedoen, sodat Hy kon sê: Ek weet, mensekind, wat dit beteken om swaar te kry soos julle; Ek weet wat dit is om seer te kry, om verwerp te word, om selfs hartseer en kwaad te word.

In ander woorde beskryf Johannes 1:1 en 14 God se koms na die wêreld: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. … Maar hierdie Woord het mens geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol genade en waarheid.

Toe Jesus, die Woord, op aarde geleef het, het Hy met mense gepraat met ’n lewende stem, Hy het mense in die oë gekyk, aan hulle geraak, hulle geleer, en hulle genees. En hulle selfs uit die dood opgewek. So wil God mense, ook vir ons, aanraak, troos, gesond maak en red van sonde en dood. Al kan ons nie verstaan nie, ons kan hoor en glo: God het naby gekom, mens geword, Hy het by ons kom woon en werk.

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS