Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 26 Oktober

Die Here is Koning oor my gesondheid

Bybelteks(te)

PSALMS 23

Die Here is my herder

1'n Psalm van Dawid.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

2Hy laat my rus in groen weivelde.

Hy bring my by waters waar daar vrede is.

3Hy gee my nuwe krag.

Hy lei my op die regte paaie

tot die eer van sy Naam.

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

5U laat my by 'n feesmaal aansit,

terwyl my teëstanders moet toekyk.

U ontvang my soos 'n eregas,

ek word oorlaai met hartlikheid.

6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly

en ek sal tuis wees in die huis van die Here

tot in lengte van dae.

Gesondheid is ’n belangrike faset van ons lewens. Ons elkeen hoop en bid vir ’n gesonde lewe. Niemand wil graag ongesond wees nie. Ons doen daarom moeite met ons leefstyl. Ons raadpleeg dieetkundiges om te leer wat ons mag eet en hoeveel om te eet. Ons sien persoonlike instrukteurs wat ons help met verpersoonlikte oefenprogramme sodat ons die regte oefeninge en die regte hoeveelheid oefening kan doen. Ons neem vitamienaanvullings en besoek ons dokters gereeld. Verskeie huishoudings besit ’n bloeddrukmeter en ’n suikertoetser. Ons vrees siektes en virusse soos ebola, voëlgriep, varkgriep en Covid-19 wat die mensdom bedreig. Maar ons vergeet dikwels om ons gesondheid aan die Here toe te vertrou.

Ons leer in Psalm 23 om ons hele lewe, daarom ook ons gesondheid, aan die Here toe te vertrou. Psalm 23 fokus op die wisseling van voorspoed en teëspoed: Eerstens word verwys na tye wanneer dit goed gaan. Dan is dit maklik om die Here se sorg te erken. Dan weer kom daar tye wanneer dit sleg gaan, soos tye van siekte en doodsgevare. In hierdie tye is dit dalk moeiliker om die Here se sorg raak te sien. Gelukkig kom daar weer tye om oor dankbaar te wees en oor die uitkoms fees te vier! Die Here is ons Herder in voorspoed en in teëspoed, in oorvloed en gevaar, in siekte en gesondwees.

Ek mag die Here vertrou met my gesondheid. Die Skepper van hemel en aarde is ook die Skepper van my liggaam, daarom kan ek die Here volkome vertrou met my gesondheid en my hele lewe, wat ook al gebeur. Selfs wanneer ons ernstig siek is en mag sterf, vrees ons nooit dat God ons verlaat nie. Vertrou vandag weer die Here met jou gesondheid en met jou lewe.

Gebed

Hemelse Vader, dankie dat ek U mag vertrou met my gesondheid. Seën my en my geliefdes asseblief met die gesondheid wat ons nodig het. Amen.

Ds Michael Müller, Klerksdorp-Wilkoppies

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS