Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 27 April

Skynheiligheid

Bybelteks(te)

1 TIMOTEUS 4

11Hierdie dinge moet jy die mense beveel en leer. 12Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges 'n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid. 13Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee. 14Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie. Dit is aan jou gegee deur die profesieë toe die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het. 15Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin, sodat almal jou vordering kan sien. 16Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.

1 TIMOTEUS 4:11-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Skynheiligheid is die een ding wat van die Christelike geloof ’n klug maak. Skynheiligheid is ’n woord wat ons dikwels hoor en dalk self gebruik. Wat sê hierdie woord? In kort beteken skynheiligheid dat ’n mens mooi goed sê, maar minder mooi goed doen. Dit beteken ook dat jy bepaalde dinge van ander mense verwag, terwyl jy dit self nie doen nie.

In die ou dae het die mense padtekens “predikante” genoem, want hulle het geredeneer dat daardie padtekens nou wel die regte pad aanwys, maar dat hulle nie self daardie pad “loop” nie. Hulle staan op een plek vasgeplant. Dit is waaroor Paulus dit in sy eerste Timoteus-brief het. Hy, as ouer man, waarsku Timoteus, ’n jong man, teen skynheiligheid.

Die raad wat hy vir Timoteus gee, is: Wees ’n voorbeeld! Lees “voor-beeld”. Wees self opreg, gaan self uit vóór die mense met wie jy te doen kry. Wys hulle die pad. Al is dit hoe moeilik, wys hulle hoe ’n mens se woorde en jou dade hand aan hand behoort te gaan, wys hulle wat Christelike liefde prakties beteken, wys hulle wat egte geloof van ’n mens vra, en wys hulle wat reinheid in lewenswandel in die praktyk beteken.

Want, sê Paulus, al hierdie dinge het jy verniet ontvang, en jy moet dit nie verwaarloos en ongebruik in jou lewe laat rondlê nie. Lééf wat jy praat, sodat mense selfs in jou jong lewe groei en vooruitgang kan sien. Soos wat ’n mens spierontwikkeling kan sien wanneer iemand liggaamsbou beoefen, so moet daar ook groei en ontwikkeling in geesbou wees.

Sedert ons nie meer besondere apostels het nie, is elke gelowige nou ’n wegwyser, alle gelowiges is nou getuies van Christus. En elke getuie moet waak teen skynheiligheid. Los die splinter in die oog van iemand anders en wees self werklik heilig, werklik toegewyd, en laat jou woorde en dade dieselfde taal praat. Altyd, oral. Anders maak ons van die Christelike geloof ’n klug, en dit mag tog nie.

Dr Christo van der Merwe, Emeritus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS