Dagboek 2021 – 28 Desember
Kersdag is verby – wat nou?
Bybelteks(te)
LUKAS 2
Die Kind Jesus by die tempel
Ons weet bitter min van Jesus se kinderdae op aarde. Dit is asof die Evangelieskrywers hulle haas om by die hoofsaak van Jesus se koms na die aarde, sy lering en uiteindelik sy kruisdood en opstanding, uit te kom. Maar ons kan seker aanvaar dat Jesus as ’n tipiese Joodse seuntjie opgevoed is, saam met sy maats gespeel het en by sy ouers grootgeword het.
In hierdie gedeelte word een van die enkele insidente uit sy jeugjare vir ons deur Lukas weergegee, juis om iets daarmee te getuig. Jesus het in dié stadium, volgens Joodse gebruik, op die drumpel van volwassenheid gestaan, maar vir sy ouers was Hy maar steeds hul seuntjie. Hulle het geweet dat Hy vir groter dinge bestem was, maar dit was seker moeilik om toe te laat dat dit gebeur. Jesus was egter baie bewus van wat Hy op aarde kom doen het. Sy optrede daar by die tempel wys baie duidelik dat Hy sy Hemelvader se wens kom uitvoer het.
Dit bring ons by die vraag waarmee ons ons so ná Kersfees moet konfronteer: Is ons bereid om Jesus in ons gedagtes te laat “grootword”? Dit is tog so maklik om ons aan die Kersfeesbaba te verwonder sonder dat ons Hom wil toelaat om ons te verander.
Dit is eers as ons die Kindjie ook later hoor as Hy mense begin leer, Hom aan die kruis sien en die oop graf sien dat ons regtig aangeraak word en begin verander. Dit is asof Lukas vir ons wil sê dat dit goed en wel is om die Kersgebeure te geniet, maar ons moet Jesus ook toelaat om groot te word, om sy ware werk in ons te doen en ons in nuwe mense te omskep.
In kort beteken dit dat ons nie Kersfees-gelowiges mag wees nie, maar eerder mense wat aangegryp en verander is deur God se liefde soos Hy dit in Jesus Christus geopenbaar het.
Ds Pieter Smith, Emeritus