Dagboek 2021 – 28 Maart
Die laaste week
Bybelteks(te)
MARKUS 11
Die intog van Jesus in Jerusalem
Dit kan gestel word dat die tyd vanaf Jesus se intog in Jerusalem waaroor die meegaande Skrifgedeelte handel, as Jesus se laaste week beskryf kan word. Dit was ’n besondere dag en ’n besondere week as die week van die paasfees. Dit was op die dag na die Joodse sabbat wat uiteindelik vir Christene Sondag sou word, die dag van die Here. Vir toeskouers sou die optog en diegene wat daarby betrokke was en Hosanna geskreeu, takke afgekap en hul klere voor die donkie se voete oopgegooi het, redelik eenvoudig en moontlik raar gelyk het. Want die vraag sou wees: Wie is hierdie man op die donkievul waaroor die omstanders so entoesiasties is?
Hulle gee die antwoord deur hul uitroepe, naamlik: Dit is Hy wat kom in die Naam van die Here, tekenend van die geseënde koninkryk van Dawid wat kom. Moderne lesers sou moeilik opgewonde raak oor ’n man wat op ’n donkievul ry, maar wanneer nader beweeg word, kom die profeet Sagaria (9: 9), die tydgenoot van Haggai, ter sprake, wat sê dat die koning van Jerusalem op pad is, Hy is nederig, maar ook regverdig, en is die oorwinnaar, hy ry op die hingsvul van ’n donkie. Hoe raar dit ook al mag klink, was die binnekoms op ’n donkie tekenend van koninklike waardigheid (vgl 1 Kon 1: 33, 38 en 44). Wat meer is: Jesus se optog nader Jerusalem vanuit die ooste, terwyl daar ook uit die weste ’n koninklike optog op pad was na Jerusalem. Dit was die optog van die Romeinse magte om hul geledere wat in die burg van Antonia gevestig was en op die tempel uitgekyk het, te ondersteun en te sorg dat die Jode in bedwang gehou word tydens hul paasfees. Die Romeinse magte soos verwoord deur Pilatus, verteenwoordig die mag van Rome. Jesus op die donkievul verwoord die koninkryk van God.
In ons geestesoog kan ons ons iets daarvan voorstel, wat vorm aanneem in ’n keuse vir óf Pilatus óf Jesus. Die keuse het bly staan tot vandag toe in die moderne wêreld waarin ons leef. Kies jy nou vir Jesus?
Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg