Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 29 Maart

Konflik by die tempel

Bybelteks(te)

MATTEUS 21

Die reiniging van die tempel

12Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi 13en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit 'n rowersnes.”

14Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. 15Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: “Prys die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig. 16Hulle sê toe vir Hom: “Hoor jy wat sê hulle daar?”

“Ja,” antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?”

MATTEUS 21:12-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

MARKUS 11

Die reiniging van die tempel

15Hulle kom toe in Jerusalem aan. Jesus het na die tempel toe gegaan en die mense wat op die tempelplein besig was om te koop en te verkoop, daar begin uitjaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi. 16En Hy het niemand toegelaat om goed oor die tempelplein te dra nie.

17Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed vir al die nasies wees’ nie? Maar julle het dit 'n rowersnes gemaak.”

18Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het dit gehoor en het na 'n plan gesoek om Hom om die lewe te bring, want hulle was bang vir Hom, omdat al die mense deur sy leer aangegryp is.

MARKUS 11:15-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die dag nadat Jesus Jerusalem met ’n heldeontvangs binnegekom het, gaan Hy na die tempel toe. Optrede wat onmiddellik aanleiding gee tot konflik met die Joodse leiers. Die tempel is vir die Jode heilige grond, die tempel van hul God. Die simbool van Israel se uitverkiesing. Dit is slegs vir Jode gereserveer – die Makkabese opstand teen die wrede Griekse koning Antiogus Epifanes IV het juis uitgebreek toe hy ’n afgod in die Joodse tempel laat indra het en mense begin dwing het om die afgod daar te aanbid. Daarom was daar in Jesus se tyd ’n inskripsie by die ingang na die tempelplein wat heidene (nie-Jode) verbied het om die area binne te gaan.

Jesus, ’n Joodse leermeester uit Galilea, mag natuurlik op die tempelplein kom. Maar Hy skok die mense wanneer Hy summier begin om die handelaars en geldwisselaars daar uit te jaag en hul tafels om te keer. Hulle stel dan juis die pelgrims uit ander dele van die land in staat om in die paastyd offers te bring!

Dit is egter veral sy woorde en verdere optrede wat die vroom Jode ontstel: Hy verduidelik sy optrede met ’n aanhaling uit Jesaja 56: 7. In hierdie hoofstuk sê Jesaja dat nie-Israelieite en selfs ontmandes deel van God se volk kan wees as hulle volgens sy verbond leef, en dat die Here se tempel ’n huis van gebed vir al die volke sal word (vgl Mark 11: 17). Dan maak Hy boonop blindes en kreupeles – wat volgens die Joodse oortuigings onrein was – daar by die tempel gesond! Terwyl kinders Hom loof as die Seun van Dawid. ’n Mens kan verstaan waarom die priesterhoofde en skrifgeleerdes woedend is (vgl Mark 11: 18).

Jesus se woorde en optrede maak die tempel vir alle mense oop, al lei dit tot konflik. Hierdie konflik is ’n wesenlike deel van Jesus se lyding op aarde. Is ons kerke oop vir alle mense, of lei dit tot konflik? Is ons harte en hande oop vir alle mense?

Dr Wouter van Wyk, Sinodaal

Bible Society of South Africav.4.25.3
VOLG ONS