Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 30 Augustus

Die wonder van God se dade

Bybelteks(te)

PSALMS 66

Hoe ontsagwekkend is u werk!

1Vir die koorleier. 'n Lied. 'n Psalm.

Juig tot eer van God, almal op aarde!

2Sing tot roem van sy Naam,

gee Hom die eer wat Hom toekom!

3Bely voor God: Hoe ontsagwekkend is u werk!

U mag is groot, u vyande kruip voor U.

4Alle mense moet voor U buig,

hulle moet sing tot u eer,

hulle moet sing tot eer van u Naam. Sela

5Kom hoor wat God gedoen het,

kom hoor van sy magtige dade onder die mense:

6Hy het die see in droë land verander;

sy volk het droogvoets deur die rivier getrek.

Toe het ons gejubel oor Hom

7wat ewig heers deur sy mag

en die nasies in die oog hou.

Die vyande moet hulle nie teen God verset nie! Sela

8Prys ons God, alle volke,

laat sy lof weerklink!

9Dit is Hy wat ons die lewe gee

en nie toelaat dat ons struikel nie!

10U het ons beproef, o God,

ons gelouter soos silwer;

11U het ons in 'n net gevang,

'n swaar las op ons gelê;

12U het ons deur mense laat vertrap,

ons het deur vuur en water gegaan;

maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe.

13Ek sal u huis betree met brandoffers

en aan U die geloftes betaal

14wat ek gedoen het, wat ek afgelê het

toe ek in nood was.

15Ek bring vir U vet skape as brandoffers,

ramme as wierookoffers,

ek offer beeste en bokke. Sela

16Kom luister, alle dienaars van God,

ek wil vertel wat Hy vir my gedoen het:

17Skaars het ek na Hom geroep,

of daar was reeds 'n loflied op my lippe.

18As daar sonde in my hart was,

sou die Here nie geluister het nie.

19Maar God hét geluister,

Hy hét my gebed verhoor!

20Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys

en sy trou nie van my weerhou het nie.

Ons kyk maklik om ons rond en sê vir mekaar: Waar is hierdie wonderlike God waarvan die Psalms so graag praat? Ons sien dan net haat, jaloesie, oorlog en korrupsie rondom ons raak. Waar is God se mooiheid? Hoe lyk die wonder van God se liefde?

God se skoonheid begin by onsself. Ons maak mekaar en die wêreld waarin ons bly, lelik. Ons maak mekaar siek met ons ontrouheid, ons slegte verhoudings en ons woorde. Ons dade maak dat ons nie God se skoonheid kan raaksien nie. Jesus het vir ons kom wys hoe God lyk. Hy het nie na die wêreld toe gekom met magsvertoon, geweld en oorlog nie. Hy het die liefdevolle en genadige God verkondig. Hy het ’n God verkondig wat alle mense, sonder uitsondering, deel maak van sy liefde en sorg. Toe kruisig hulle Hom. Maar Jesus het ook opgestaan sodat ons die wonder van God se liefde in ons kan dra en uitdra. Die wonder van God se dade en liefde begin by ons. In ons dade kan mense God se mooiheid sien. In ons woorde kan mense die wonder van God se liefde hoor.

Saam met die Psalmdigter kan ons ook voor God bely: Hoe ontsagwekkend is u werk! God het ’n wêreld geskep wat mooi en goed was. Sy skepping het iets van God se wese weerspieël. Hy het ons geskep dat ons in vrede en harmonie met mekaar sal saamleef. Hy het ons geskep sodat ons dade en woorde iets van sy mooiheid sal weerspieël. Waar mense mekaar respekteer en mekaar liefhet, sien ons die teenwoordigheid van God. Dan sal ons ook saam met die digter van Psalm 66 kan sing: Kom hoor wat God gedoen het, kom hoor van sy magtige dade onder die mense… Sy magtige dade begin daar waar ons sy liefde leef en Paulus se gebed (1 Tim 1:17) ook ons gebed word: Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS