Dagboek 2021 – 30 Desember
Kersdag is verby – wat nou?
Bybelteks(te)
LUKAS 3
Die prediking van Johannes die Doper
By Johannes die Doper was daar geen twyfel nie dat Jesus se verskyning op aarde ingrypende veranderings sou meebring. Hy was diep bewus van sy eie belangrike taak, naamlik om mense voor te berei op Jesus se openbare optrede. Hy sou sy werk goed doen, maar dan wou hy terugstaan sodat Jesus al hoe meer op die voorgrond kon tree.
Dit is opvallend hoe Johannes se opdragte aan die verskillende groepe wat by hom raad kom vra het, ooreenstem met dit wat Jesus ook later sou leer. Johannes sê telkens dat hulle regverdig, en daarom met liefde, teenoor hul medemens moes optree. Jesus sou dit seker in ander woorde gestel het, maar die beginsel bly dieselfde: Tree so op dat die liefde vir jou naaste duidelik sigbaar word.
Jesus se leringe en veral sy offer aan die kruis en sy opstanding uit die dood sou almal wat waarlik in Hom as Verlosser glo, se lewens vir altyd verander. Dit is heel natuurlik en menslik om jouself in die middelpunt te plaas en jou eie belange só te dien dat jy selfs op ander sal trap. Jesus het egter na die aarde gekom, gely, gesterf en weer opgestaan om ons so te verander dat dié reël nie meer vir ons wat in Hom glo, hoef te geld nie.
Die Kindjie wat in Betlehem gebore is, sou grootword en mense leer wat God van hulle verwag. En dan sou Hy ook as Man van Smarte ly, aan die kruis van Golgota sterf, opstaan en so die mag van die dood en Bose verslaan. Dit is immers waarvoor God Hom na ons stukkende en siek wêreld gestuur het: om verandering en heling te bring.
Iets van die erns waarmee Johannes eeue gelede sy taak uitgevoer het, moet ook in ons wat in Jesus Christus as Verlosser glo, sigbaar word. Ons het die opdrag en wonderlike voorreg om dit duidelik sigbaar te maak dat Jesus ons inderdaad verander het.
Ds Pieter Smith, Emeritus