Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 30 Julie

Toeval... of nie?

Bybelteks(te)

JOHANNES 4

Jesus en die Samaritaanse vrou

1Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes. – 2Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels. – 3Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. 4Hy moes deur Samaria gaan.

5Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.

7Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My 'n bietjie water om te drink.”

8Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop.

9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?”

Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.

10Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My 'n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

11Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? 12Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?”

13Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

15Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”

16Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

17Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie 'n man nie.”

En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie 'n man nie.’ 18Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.”

19Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u 'n profeet is. 20Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar 'n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.”

21Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom 'n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. 22Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. 23Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. 24God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”

25Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.”

26Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”

JOHANNES 4:1-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die verskynsel van toeval is al wyd bestudeer, byvoorbeeld in Carl Jung se werk oor sinchronisiteit – wanneer iets betekenisvol gebeur waarvan die waarskynlikheid dat dit sou plaasvind besonder klein is.

In die Bybel is daar ook gebeurtenisse wat op die oog af toevallig lyk, maar te netjies in God se groter plan inpas om bloot as toeval beskou te word. Byvoorbeeld: Van al die jongmense wat gereeld in die Nylrivier gaan swem het, is dit die farao se dogter wat die biesiemandjie met ’n babaseuntjie tussen die riete ontdek; die ontmoeting van Rut en Boas tydens die garsoestyd toe sy na die lande gegaan het om are op te tel; en ’n skaam en vernederde Samaritaanse vrou wat Jesus op ’n vreemde tyd van die dag by die fontein by die dorpie Sigar ontmoet terwyl Hy vlugtig daar vertoef op reis na Galilea.

Onverwags, maar beslis nie toevallig nie! Ons het nie ’n idee hoeveel maal God al ons lewens gered het in die verlede nie. Jy is nie eens bewus van die ongelukke waarin jy net-net nie was nie, die siektes wat jy nie gekry het nie, die probleme wat jy nie gehad het nie.

Dit laat my dink aan die man wat gaan bergklim het en dan heeltemal verdwaal. Hy stap in sirkels en raak honger en dors. Hy het nog nooit in sy lewe gebid nie, want hy was nog altyd erg skepties oor geloof, maar nood leer mos bid. En hy smeek die God wat hy nie ken nie, om uitkoms. Later, nadat hy van die berg af gered is, vertel hy sy storie aan ’n vriend. En, sê sy vriend, dit lyk of die Here jou gebed verhoor het, want hier is jy in lewende lywe. O nee, antwoord hy steeds skepties, voordat die Here enige iets kon doen, het ’n veldgids toevallig daar verbygekom en my na veiligheid gelei!

Die Here gryp dikwels in ons lewens in sonder dat ons dit besef, want dit gebeur ook en veral op alledaagse maniere.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

Bible Society of South Africav.4.26.7
VOLG ONS