Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 30 September

Die nuwe verbond

Bybelteks(te)

JEREMIA 31

27Daar kom 'n tyd, sê die Here,

dat Ek Israel en Juda weer sal vol maak met mense en diere.

28Ek was gretig om hulle uit te ruk en af te breek,

om hulle plat te slaan en te vernietig,

om rampe oor hulle te bring.

Ek sal net so gretig wees om hulle op te bou en hulle te plant, sê die Here. 29In daardie tyd sal hulle nie meer sê: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword” nie. 30Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se tande sal stomp word.

31Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34'n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

JEREMIA 31:27-34AFR83Maak oop in die Bybelleser

Van die vroegste tyd af hoor ons van God se verbond, dat Hy verbonde wil wees aan sy mense. By Noag en Abraham, maar veral by Moses, maak ons kennis daarmee. Moses kom van die berg af met die tafels van die wet. Duidelik wil God sy volk se God wees en hulle as sy volk hê; maar om God se volk te wees, moes hulle sy gebooie gehoorsaam. Deur die jare was dit duidelik dat dit te veel gevra was – die volk het gedurig oortree, en die straf sou nie uitbly nie. Jeremia het as profeet opgetree in ’n tyd toe dit besonder moeilik gegaan het met die volk. Jeremia het die teenspoed toegeskryf aan die ontrouheid van die volk en was diep onder die indruk van die toorn van die Here wat uitgeruk, afgebreek, platgeslaan en vernietig het.

Jeremia kom dan met die belofte van ’n nuwe tyd van opbou en plant. Die nuwe verbond wat gesluit sal word, sal heel anders wees as die vorige een wat die volk verbreek het. Waar die ou verbond se bepalings op tafels van klip geskryf was, sal God se woord op hul harte geskryf word. Om gehoorsaam te wees, sal nie meer eise wees nie, nie ’n gebod wat van buite afgedwing word nie, maar sal van binne, uit die hart kom. Diens aan God sal nie meer “moet” wees nie, maar “wil”. Hoe kon dit egter moontlik wees vir ’n volk wat soveel keer gefaal het? Dit kon en sal steeds moontlik wees vir mense wat ontdek het wat sondevergifnis werklik beteken; dat die las van skuld nie meer gedra hoef te word nie.

Ten opsigte van hierdie belofte het Jesus Christus en die koms van die Heilige Gees vir mense ’n lig laat opgaan. Ook jy kan vandag seker wees dat daar deur die geloof in Christus telkens vir jou ’n skoon blad geskep word deurdat God nie meer aan jou sondes dink nie. Kan dit wat mense uiterlik by jou ervaar, daarvan getuig dat sy woord op jou hart geskryf is?

Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus

Bible Society of South Africav.4.25.3
VOLG ONS