Dagboek 2021 – 31 Desember
Oujaarsdag – hoe kyk ons terug?
Bybelteks(te)
LUKAS 12
Die sorge van die lewe
Op Oujaarsdag wil ’n mens terugkyk na die afgelope jaar en jouself afvra of dit ’n goeie jaar was. Die bril waardeur jy na die afgelope jaar kyk, gaan bepaal hoe dit vir jou lyk. Jy kan daarna kyk deur die bril van aardse goed, soos jou bankbalans, jou gesondheid en jou geluk. Dan gaan dié dinge ook bepaal hoe goed of sleg die jaar vir jou lyk.
In die gedeelte wat ons gelees het, hoor ons egter hoe Jesus ’n ander bril vir ons wil gee waarmee ons na ons omstandighede kan kyk, naamlik die bril van die koninkryk van God. Jesus het juis na die aarde gekom om hierdie anderse koninkryk hier te kom vestig. Deur sy openbare optrede en deur sy lering wys Hy dat aardse dinge nie altyd die belangrikste hoef te wees nie. Deur sy kruisdood en opstanding verlos Hy ons om ook so anders te kan dink en doen.
Jesus sê sekerlik nie dat aardse dinge glad nie meer mag te tel nie, maar wat Hy wel sê, is dat daar belangriker sake is wat ons gesindheid behoort te bepaal. Jesus wil dus hê dat ons wat in Hom as Verlosser glo, ander prioriteite sal hê: Ons kan anders na ons omstandighede kyk.
Ons kan raaksien watter ontsaglike voorreg dit is om nou al deel van God se koninkryk op aarde te mag wees. Ons kan raaksien dat ons ook met ons optrede kan help om die koninkryk in diepte en getalle te laat groei. Met ons ingesteldheid, woorde en dade kan ons ons beywer vir God se koninkryk.
Met Kersfees nog vars in ons gedagtes, kan die afgelope jaar vir ons heeltemal anders begin lyk as ons deur die bril van God se koninkryk daarop terugkyk. En as ons deur dieselfde bril vorentoe kyk na die komende jaar, sien ons nuwe uitdagings om ons te beywer vir God se koninkryk.
Ds Pieter Smith, Emeritus